In die tweede episode van Die Oomblik kry kykers ’n intieme blik op hoe Karlien van Jaarsveld voorberei vir nóg ’n onvergeetlike verskyning op die Afrikaans is Groot-verhoog.
Karlien is geen vreemdeling vir dié ikoniese konsert nie. Sy is sedert die heel eerste Afrikaans is Groot-konsert in 2012, wat by die Moreleta Park Ouditorium begin het, deel van die reis. Vir haar is AiG nie net ’n vertoning nie — dit is ’n stuk geskiedenis, ’n stuk hart.
“Geskeurde Jeans” kry nuwe lewe
Vir die 2025-konsert kies Karlien om haar gewilde treffer “Geskeurde Jeans” weer op die verhoog te bring — ’n lied wat sy reeds in 2015 by Afrikaans is Groot gesing het. Maar hierdie keer doen sy dit anders.
Met ’n splinternuwe rock-intro blaas sy vars energie in die liedjie in. Dis gewaagd, dinamies en tipies Karlien — altyd bereid om risiko’s te neem en haar gehoor te verras.
“Ek is die een wat meer risky goed sal doen op die verhoog,” vertel sy. “Ek het ook al ’n paar keer op Afrikaans is Groot gedans.”

’n Ma wat eerlik is — en ’n aanhanger met hart
Karlien kies haar ma en bestuurder, Ronel Brink, as haar grootste ondersteuner vir hierdie reis. Sy beskryf haar ma as haar veilige plek — iemand wat eerlik, reguit en opbouend krities is.
“My ma gaan nie vir my sê hierdie was okay en daai was nice nie. Sy gaan vir my sê ek dink nie hierdie was great nie, en hierdie is die rede.”

Intussen word Luché Steyn, ’n eerstejaarstudent van Pretoria, as Karlien se grootste aanhanger gekies. “Ek het ’n baie diep liefde vir die kunste, en daarom so groot liefde vir Karlien,” vertel sy.

Skaaf, skuur en sweet
Ses weke voor die groot aand begin die intense voorbereiding. Van ingewikkelde danspassies tot tegniese repetisies — alles word fyn beplan.
Choreograaf Liam Anthony van Tailormade Group verduidelik presies watter bewegings Karlien saam met die dansers moet uitvoer. Die plasing van die dansers word ook vroeg vasgelê om seker te maak elke oomblik op die verhoog is perfek getymeer.


Maar dan slaan die onverwagte toe.
Tydens ’n repetisie kom hulle agter die lift waarmee Karlien “magically” onder op die verhoog moet verskyn, is te stadig. ’n Groot timing-krisis dreig. Moet daar ’n langer musikale breek wees? Sal dit nie ’n ongemaklike stilte veroorsaak nie?
Uiteindelik word ’n plan gemaak: Karlien word effens vroeër laat sak met haar kitaar, skiet dit vinnig af, druk deur ’n klein opening, waar Liam haar opvang — en dan hardloop sy om betyds onder uit te kom.
Dis millimeter-werk. Dis adrenalien.
En dan… Die Oomblik
Die ligte doof. Die dromme slaan.
“In my geskeurde jeans…” eggo dit deur die arena.
Die skerms se deure swaai oop — en daar staan sy.
Die lift het gewerk.
Karlien van Jaarsveld, weer eens, in haar element. Weer eens besig om haar storie te leef op die verhoog wat al vir meer as ’n dekade deel is van haar reis.
Dis nie net ’n optrede nie. Dis ’n bewys van toewyding, spanwerk en die magie wat gebeur wanneer voorbereiding en passie ontmoet.
