Rooksein, die geliefde Afrikaanse groep wat in 2018 deur drie studente-vriende in Potchefstroom gestig is, staan op die drumpel van ’n opwindende nuwe fase in hul musikale reis.
Oor die afgelope agt jaar het Rooksein hul merk diep in die Suid-Afrikaanse musiekbedryf ingeskerp. Met ’n kenmerkende klank en eerlike lirieke het die groep ’n lojale aanhang opgebou, hul musiek is reeds meer as 45 miljoen keer gesamentlik gestroom, en hulle het hul plek op van die land se mees gesogte verhoë volgestaan.
Soos wat dit dikwels met kreatiewe reise gebeur, bring groei en ontwikkeling ook verandering. Rooksein bevestig hiermee dat Megan nie langer deel van die groep sal wees nie. Hierdie besluit vorm deel van ’n natuurlike nuwe seisoen vir die lede, wat elk ook reeds as solo-kunstenaars hul eie stemme en loopbane gevestig het.
Megan se rol in die ontstaan en sukses van Rooksein bly egter onmiskenbaar. Haar bydrae het ’n blywende invloed op die groep se identiteit en grondslag gehad, en sy sal altyd ’n belangrike deel van Rooksein se storie wees. Die groep spreek hul opregte waardering uit vir alles wat sy tot die reis bygedra het.
Met die blik stewig vorentoe gerig, sien Rooksein uit na hierdie nuwe era – ’n voortsetting van hul musikale pad met dieselfde passie, eerlikheid en toewyding wat hul ondersteuners oor die jare leer ken en liefgekry het. Die volgende hoofstuk is hier, en Rooksein is gereed om dit met oop arms te betree.
