Taye skop die jaar af met ’n warm nuwe enkelsnit, “Dans Met Gevaar”, wat nou op alle stroomdienste beskikbaar is. Hierdie unieke liedjie dra nie net ’n treffende titel nie, maar vertel ook ’n interessante storie wat met Taye se eie lewe verweef is.
Taye het haar voet vir ’n tweede keer gebreek toe sy van ’n verhoog afgeval het gedurende ’n vertoning, wat haar nou amptelik die tong-in-die-kies titel “Dans Met Gevaar” gee! Dié liedjie, geskryf deur Emil Paul en vervaardig deur Hugo Ludik van Muse Studios, is propvol energie en uniekheid wat ’n vars klank na die plaaslike musiektoneel bring.
“Ek love die song, want ek dink dit is ’n bietjie anders as wat vroulike kunstenaars gewoonlik doen. Liedjies van die ou dae word oorgedoen, maar ek en Emil het besluit om ’n boere-orkes-gevoel in die liedjie te sit met ’n lekker beat,” vertel Taye met opwinding.
“Dans Met Gevaar” kombineer tradisionele boere-orkes-elemente met ’n moderne ritme, wat dit ’n ware plesier maak vir ’n wye gehoor. Die liedjie is nie net ’n dansvloer-treffer nie, maar ook ’n inspirasie vir almal om die lewe aan te gryp, al is daar soms gevare betrokke.
Luister nou na “Dans Met Gevaar” op jou gunsteling stroomplatform en ervaar Taye se unieke styl wat musiek-liefhebbers van alle ouderdomme betower.
