Daar is oomblikke in elke mens se lewe waar vrees ons oorval. Soms is dit die vrees om iemand na aan jou te verloor, jou huis of sekuriteit, iets kosbaar, of selfs die klein goedjies – soos die seermaak van ’n hart. Maar Jo Black se splinternuwe enkelsnit, “Ek Sal Nie Bang Wees Nie”, wat pas uitgereik is, bied ’n boodskap van rus, hoop en krag.
“Die rede hoekom ek hierdie liedjie uitbring, is omdat dit 13 jaar gelede ’n groot impak op my lewe gemaak het. Ek voel nou meer as ooit dat dit tyd is dat mense hierdie boodskap weer hoor en ter harte neem. Daar is soveel vrees daar buite, maar ons moet besef dat ons nie bang hoef te wees nie,” vertel Jo met oortuiging.
Die oorspronklike weergawe van die liedjie is geskryf deur Joe Niemand, maar Jo Black het dit nou ’n nuwe lewe gegee onder die kundige hand van vervaardiger Murray Lubbe. Dié verwerking dra ’n kalm, troosvolle klank – die tipe liedjie wat jou siel stilmaak wanneer jy na ’n lang dag huis toe ry, of jou môre se gemoed lig as jy pad vat werk toe.
Boonop kan aanhangers uitsien na ’n beeldskone musiekvideo wat saam met die vrystelling bekendgestel word.
Vanaf vandag kan jy saam met Jo Black die vrees van alledaagse lewe laat staan en met oorgawe sê: “Ek sal nie bang wees nie.”
