2025 is ’n mylpaaljaar vir die geliefde en bekroonde sangeres Jennifer Zamudio. Hierdie jaar vier sy nie net haar 25ste bestaansjaar as professionele kunstenaar in die Afrikaanse musiekbedryf nie, maar sy stel ook haar 15de vollengte album, getiteld “Enigste”, vry – ’n projek wat die hartklop van haar loopbaan en persoonlike groei vasvang.
Gedurende die afgelope twee en ’n halwe dekades het Jennifer talle nasionale musiektoekennings ontvang en haarself gevestig as een van die suksesvolste onafhanklike kunstenaars in ’n bedryf wat voortdurend verander. Sy het met flair aangepas by die digitale musieklandskap en bly in voeling met tegnologie en haar aanlyn gehoor.
Die album “Enigste”, wat op 18 Julie 2025 vrygestel is, bevat elf snitte wat ’n stylvolle balans bied tussen Afrikaanse pop en kontemporêre klanke. Dit is ’n album wat moeiteloos by ’n wye gehoor aanklank sal vind – van nostalgiese aanhangers tot nuwelinge wat haar klank vir die eerste keer ontdek.
Jennifer verras haar aanhangers met drie selfgeskryfde liedjies: “Nog altyd jy”, “Hele hart” en “Ewig myne” – wat haar persoonlike betrokkenheid en kreatiewe groei as kunstenaar beklemtoon. Die titelsnit, “Enigste”, is geskryf deur die talentvolle Tertius BC Pretorius – dieselfde skrywer agter haar groot treffers “Altyd myne” en “Dalk”. Tertius het weereens Jennifer se unieke stem en emosionele diepte perfek vasgevang.
Die bekende liedjieskrywer Rudi Claase het ook ’n besonderse bydrae gelewer met die snit “Die foto” – ’n lied wat herinner aan die waarde van die hede en die belangrikheid daarvan om elke oomblik te vier. “Ek lig my glas, en die een is vir jou,” sing Jennifer – ’n dankie aan haar lojale aanhangers, die “Zamjammers”, wat haar al die jare ondersteun.
Drienie Kelly, wat vroeër sukses met “Jy het my vergeet” behaal het, het ook “In die holte van my hart” vir dié album geskryf – ’n snit wat verseker weer trefferpotensiaal inhou.
“Enigste” sluit ook nostalgie in met nuwe weergawes van internasionale gunstelinge soos “All I Wanna Do Is Make Love To You”, “I’ll Be Your Woman”, en Gene Rockwell se “Heart” – alles liedjies wat Jennifer na aan die hart lê en waarin haar stem ten volle tot sy reg kom.
Die produksie is meesterlik hanteer deur Christie Schutte van Startrax Recording Studios, wat met sy musiekvernuf elke emosie op die album vlerke gegee het.
Jennifer som dit perfek op: “Ek vier die lief en leed van die hart met lirieke uit my eie pen, maar ook die van ongelooflike skrywers… Mag jy elke dag daai ‘Enigste’ in jou lewe koester, bewonder en onvoorwaardelik liefhê.”

Met “Enigste” vier Jennifer Zamudio nie net haar loopbaan nie – sy vier liefde, groei, herinneringe en die pad wat nog voorlê. Hierdie album is ’n eerlike, emosionele en opwindende viering van wie sy is – en wie sy vir haar gehoor was en bly.
