Die Suid-Afrikaanse sangeres en liedjieskrywer Jemma Catherine is besig om haar plek in die musiekwêreld vol selfvertroue in te neem – en dit met ’n vrolike vonkel en ‘n klank wat mens nie uit jou kop uit kan kry nie. Met ’n kinderjare gevul met musiek en ouers wat haar kreatiwiteit gekoester het, het Jemma se passie vir sang en liedjieskryf van kleins af momentum opgebou.
Haar nuutste enkelsnit, “Mooi Ding”, is ’n kleurvolle kombinasie van pop- en alternatiewe elemente, met ’n stewige sokkie-ritme wat jou voete laat beweeg en jou hart laat glimlag. Die liedjie vertel op speelse wyse die storie van liefde wat onverwags toeslaan – presies wanneer jy dit die minste verwag. Met ’n sterk persoonlike inspirasie agter die lirieke, wys Jemma dat sy nie bang is om eerlik te wees oor haar eie ervarings nie.
“Ek wou iets skryf wat eerlik is, maar ook lig en lekker is om op te dans,” sê sy. “Dis ’n liedjie oor liefde, maar nie die perfekte tipe nie – dis die tipe liefde wat jy nie voor kan beplan nie.”
Jemma erken dat sy self altyd skepties was oor die ou cliché dat liefde jou tref wanneer jy dit nie verwag nie – tot haar eie “mooi ding” haar pad gekruis het. Dié lied het ontstaan uit daardie verrassende gevoel van raakgesien en raakgevoél word, en die vreugde wat saamkom met ’n liefde sonder voorafbeplanning.
Die produksie is energiek, modern en radiovriendelik, maar bevat net genoeg nostalgie om alle ouderdomme aan te spreek. Dit is ook ’n bewys van Jemma se toewyding aan haar kuns – sy het saam met die talentvolle Ruan Graaff gewerk om hierdie liedjie lewe te gee, wat wys dat sy doelgerig en ernstig is oor haar musiekloopbaan.
“Ek wil sterk staan vir wat ek as kunstenaar en skrywer met my musiek wil bereik,” sê sy. “Ek wil iets vars, eerlik en eg bring na die bedryf toe.”
Kyk die musiekvideo hier:
“Mooi Ding” is nie net ’n lied nie – dit is ’n ervaring wat mens herinner aan die spontane vreugde van die lewe, en hoe liefde soms net daar is, sonder waarskuwing.
