Die Suid-Afrikaanse musiektoneel kry weer ’n vars en eerlike klank met die terugkeer van die talentvolle Zahn – ’n kunstenaar wie se unieke stem, rou emosie en opregte lirieke haar oor die afgelope dekade ’n bekende naam in Afrikaanse musiek gemaak het.
Ná meer as tien jaar in die bedryf, oor die 20 oorspronklike liedjies, en verskeie hoëprofiel optredes, is Zahn gereed om haar nuutste enkelsnit met die wêreld te deel: die hartroerende en diep persoonlike “Geval vir jou”.
“Geval vir jou” is veel meer as ’n tradisionele liefdeslied – dis ’n eerlike vertelling van Zahn se eie pad na ware liefde. Sy deel: “Ek was jare lank in ingewikkelde verhoudings en het gedink ek weet wat liefde is. Toe ontmoet ek vir Stefan. Hy het vier maande lank agter my aangehou, en toe hy uiteindelik stil raak, het ek besef wat ek verloor het. Toe ek sê ek mis hom, het hy dadelik ’n restaurant bespreek, blomme gebring en my op ’n behoorlike afspraak gevat.”
Hierdie ware verhaal vorm die hart van die lied – ’n huldeblyk aan tweede kanse en die krag van ware liefde.
Die lied is geskryf en vervaardig deur Vincent Gordon, en kombineer ’n moderne pop-klank met temas van vertroue, groei en vergifnis. Zahn sê: “Dis ’n lied wat na aan my hart lê – dit gaan oor die tipe liefde wat jou verander, wat jou laat glo, wat jy kan vertrou.”
Met haar kenmerkende stem en emosionele diepte bring Zahn weer ’n lied wat luisteraars reg in die hart tref.
Met ongeveer 22 opgeneemde liedjies waarvan sewe reeds op digitale platforms beskikbaar is, het Zahn haar plek in die bedryf gevestig. Haar enkelsnit “Dis Hoe Jy Die Wêreld Verander” het vir twee weke op nommer een op ’n gewilde top 10-trefferlys gekuier, en in 2023 is sy bekroon as Beste Vroulike Sangeres van die Jaar by die Afri-Indie Music Awards.
Zahn se musiek het ook nasionaal aandag getrek, met artikels en onderhoude in Huisgenoot, Rooi Rose en Rapport – publikasies wat haar nie net as kunstenaar nie, maar ook as mens uitlig.
Na ’n uitdagende tydperk van herstel ná ’n heupbesering, is Zahn weer volstoom terug. Sy werk tans aan ’n moontlike skepe-kontrak en beplan om in 2025 nuwe musiek vry te stel en internasionale verhoogte weer aan te durf. Intussen het haar gewilde sosiale media-reeks #sulketyd, waar sy luisteraars se versoeke uitvoer, aanlyn groot aftrek gekry – ’n teken dat haar aanhangers haar egtheid en talent waardeer.
“Ek het geval vir jou.” Só beskryf Zahn nie net die essensie van haar nuwe enkelsnit nie, maar ook haar geloof in die krag van liefde. “Liefde is ’n universele taal,” sê sy, “en ek glo hierdie lied gaan mense diep raak – of jy nou jou eerste liefde pas gevind het, of al jare lank gelukkig getroud is.”
“Geval vir jou” is nou beskikbaar op alle digitale platforms. Moenie hierdie emosiebelaaide en meesterlik vervaardigde liedjie misloop nie – luister, deel dit met iemand spesiaal, en laat Zahn se stem jou ook laat val… vir liefde.
