Die sangeres Jauni M het onlangs haar nuutste enkelsnit, “Storm”, vrygestel – ’n lied vol gevoel, betekenis en ’n produksieproses wat haar geduld behoorlik getoets het. In hierdie vraag-en-antwoordsessie gesels sy openhartig oor die storie agter die snit, die invloed van haar lewe in Dubai, en wat haar aanhangers vorentoe kan verwag.
1. Wat het jou geïnspireer om jou nuwe enkelsnit “Storm” te skryf, en wat beteken die lied vir jou persoonlik?
Johan Oberholzer het “Storm” geskryf. Ek was verlief die eerste keer toe ek die liedjie hoor. Die eerste gedagte wat by my opkom as ek aan “Storm” dink, is amper soos om in die oog van ’n tornado te wees – alles waai wild rondom jou, maar jy is droog en veilig. Dis daardie gevoel van beskerming te midde van chaos.
2. Hoe beïnvloed jou lewe in Dubai jou musiekstyl en kreatiewe proses?
Ek dink mens kan kreatief wees enige plek in die wêreld. Dubai is ongelooflik divers – daar is soveel kulture en mense. Dis moeilik om net een musiekstyl aan te dui wat my beïnvloed, juis omdat die invloede hier so uiteenlopend is. Ek dink dit gee my ook die vrymoedigheid om nie in ’n boksie te klim nie.
3. Die titel “Storm” klink baie kragtig – watter emosies of boodskap probeer jy deur die lied oordra?
Ek dink die kernboodskap van “Storm” is dat almal verdien om iemand in hul lewe te hê wat hulle veilig laat voel – ongeag wat buite aan die gebeur is. Dis daardie gevoel van sekerheid en rus, selfs al is daar storms rondom jou.
4. Watter uitdagings en geleenthede het jy ervaar met die maak van “Storm”?
Wow, “Storm” het baie uitdagings gehad. Ek dra hierdie lied al ’n paar jaar saam met my – dit was letterlik in my “gatsak”! Ek het dit al ’n jaar gelede gaan opneem, maar die produksie het lank gevat. Soos in almal se lewens gebeur dinge, en ek glo vas dat alles op die regte tyd gebeur soos God dit beplan. Ek is net ongelooflik dankbaar dat ek die kans gekry het om een van Johan se liedjies te kon opneem – en dat die room van die bedryf dit geproduseer het. Dit was beslis die wag werd.
5. Wat kan jou aanhangers volgende van jou verwag ná die vrystelling van “Storm”?
Dis moeilik om te sê – niemand weet wat môre, oormôre of selfs volgende week gaan gebeur nie. Maar… dalk, as Storm goed doen, kan ’n musiekvideo op die horison wees. Wie weet?
