In ’n stad waar winters gewoonlik net beteken dat jy dalk ’n baadjie moet aantrek, gaan iets magies op 11 Julie 2025 gebeur. Spoegwolf, een van Suid-Afrika se mees geliefde alternatiewe musiekgroepe, neem hul aanhangers op ’n onvergeetlike reis: Spoegwolf Op Ys – ’n eenmalige winterfees by die ikoniese SunBet Arena, Time Square, Pretoria.
Maar moenie dink dis net nog ’n konsert nie. Nee – dit is ’n onderdompeling in alles wat jou laat verlang na koue nagte, warm sjokolade, blink Kersfeesliggies en daardie gevoel van saamkuier onder ’n kombers vol sterre. Vir een spesiale aand word Pretoria omskep in ’n Europese winterlandskap – volledig met vallende sneeu, kersbome, biertente, en winterpret soos jy dit nog nooit in Suid-Afrika beleef het nie.
“Ons wou nog altyd ’n wêreld skep waarin mense vir ’n aand kan ontsnap — iets wat nie net gehoor word nie, maar gevoel word,” sê hoofsanger Danie du Toit. “Hierdie konsert is vir ons aanhangers. Hulle is die rede hoekom ons skryf, optree, en aanhou droom. Hierdie is vir hulle.”
Om elke aanhanger deel van die magie te maak, word daar ’n spesiale verhoog gebou wat regdeur die gehoor loop, sodat elke persoon daardie unieke, intieme ervaring kan hê – of jy nou in die voorste ry of agter sit. Spoegwolf bring hul beste liedjies van die afgelope 13 jaar, in splinternuwe rangskikkings, saam met verrassings wat selfs die mees toegewyde aanhangers se asems sal wegslaan.

Die arena sal bruís van warmte en samesyn, met:
- Warm sjokolade-stalletjies
- Biertente vir daardie Duitse wintermark-gevoel
- Kersfeesliggies en dekor
- En natuurlik – kunssneeu wat stadig op jou skouers val terwyl die musiek jou siel warm maak
Dis ’n viering van vriendskap, musiek, drome – en Spoegwolf se ongelooflike vermoë om emosie te omskep in klank en beeld. As jy al ooit gewonder het hoe dit sou voel as jou gunsteling musiekgroep ’n sprokie optree – dit is daardie oomblik.
Kaartjies is nou beskikbaar by iTickets.
Datum: 11 Julie 2025
Plek: SunBet Arena, Time Square, Pretoria
Tema: Winter-Kersfees soos jy dit nog nooit beleef het nie
Hierdie is ’n aand wat in sneeu geskryf gaan word.
