Nicholis Louw is terug en hy bring nie net ’n liedjie saam nie — hy bring ’n gevoel, ’n vakansie, ’n karrit-rit vol son en saamsing: “Radio”, sy jongste treffer wat reeds weerklank vind in harte en luidsprekers landswyd. Met ’n pakkende koor, ’n energieke ritme en ’n storie met ’n persoonlike oorsprong, bewys Louw waarom hy steeds een van Afrikaans se mees geliefde kunstenaars is.
Die inspirasie vir “Radio” lê, soos soveel van die mooiste dinge in die lewe, in die huislike sfeer. Nicholis onthul dat sy vrou die oorspronklike lirieke as ’n speelse improvisasie gesing het terwyl sy hul kinders gebad het. “Sy’t gesing: ‘Radio, o, o, o, o speel my liedjie nou,’ en die kinders het geskater. Ek het dadelik geweet: hierdie is iets besonders,” vertel hy. Die koor het nege jaar lank in sy geheue vasgesteek totdat hy besluit het dit’s tyd om die lied sy regmatige plek op die verhoog te gee.
LEES OOK: Nicholis Louw vermaak met nuutste enkelsnit Werfbobbejaan
Die lirieke van “Radio” speel met die universele ervaring van ’n lied wat bly vassteek — selfs dié wat jy nie eens probeer onthou nie. “Dis juis wat van ’n lied ’n ‘hit’ maak,” sê Nicholis. “Hy vat oor. Jy wil hom dalk vergeet, maar dan’s hy weer terug — soos ’n dief in die nag.” Hierdie gevoel word perfek vasgevang in die tweede vers van die lied, wat die gehoor laat glimlag in herkenning én saamsing uit volle bors.
Vir Nicholis is die gevoel wat “Radio” oordra net so belangrik soos die melodie self. “Ek wil hê mense moet dadelik voel soos wanneer hulle af Kaap toe ry — son, oop vensters, en kliphard saamsing. Dis daai ‘off switch’-oomblik wat ek wou vasvang.” “Radio” is dus nie net ’n lied nie; dis ’n klein vakansie in musiekformaat.
Nicholis Louw se optredes is alombekend vir hul hoë energie — en “Radio” is die perfekte toevoeging tot daardie tradisie. “Ek hou daarvan om momentum te bou op die verhoog, en hierdie song gee my presies daardie energie,” sê hy.
Selfs die produksie van die lied het ’n vars benadering gevolg. “Ek het nie eers ’n huis-demo gemaak nie. Ek’s reguit studio toe. Alles was baie organies en kreatief. En dis daai spontaniteit wat jy in die eindproduk kan hoor.”
In ’n era waar digitale platforms koning kraai, glo Nicholis steeds in die mag van radio. “Dis nog steeds die beginpunt. As iemand dit hoor op die radio en dit dan soek op Spotify of Apple Music — dan doen die radio sy werk.” En ironies genoeg, is dit “Radio” self wat dalk binnekort landwyd op radiostasies vassteek in almal se koppe.
Kyk die musiekvideo hier:
“Radio” is gemaak om saam te sing — ’n doelbewuste keuse. “Ek wil hê teen die tweede koor moet jy al kan saam sing. Dis wat liedjies soos ‘Coco Pops en Kaas’ en ‘Werfbobbejaan’ so spesiaal maak. Mense onthou hulle omdat hulle deel voel daarvan.”
En as Nicholis “Radio” in een woord moet opsom? “Pret,” sê hy sonder om te dink. En as jy na die aansteeklike koor luister:
Radio-o-o-o-o / Speel my liedjie nou-ou-ou-ou-ou / Daai een waarvan ek hou-ou-ou-ou-ou / Ek moet hom hoor, ek moet hom hoor!
… dan weet jy: “Radio” is nie net terug nie. Dis hier om te bly.
