FOTO: YouTube skermskoot
Jacques Leonard het nog altyd gedroom daarvan om eendag op ’n verhoog voor ’n mikrofoon te staan. Daar was áltyd musiek in die huis en soms het hy sommer saamgesing. Dis eers op hoërskool waar die musiekgogga behoorlik begin byt het toe dié sanger die destydse MK-kanaal ontdek het.
“Daar was al die bands en ek het baie aanklank gevind by hierdie alternatiewe klanke. Toe dink ek by myself, sjoe ek wil ook dít doen,” vertel Jacques in ’n onderhoud met Fanie Nel, redakteur van Afrikaanse Musieknuus.
Op veertien het hy sy eerste kitaar by ’n familie vriend gekry. “Ek kon dit nie speel nie en nog minder noot hou. Maar ek weet ek wou altyd gesing en musiek gemaak het. Ek kon nie ander mense se musiek speel nie, so ek moes dus my eie maak,” vertel Jacques.
Jacques sê deur musiek te maak en te skryf, kry hy as’t ware ’n ander tipe “confidence”. Dit hou hom gelukkig en sal altyd deel van hom wees. Vra jy hom waar hy sy inspirasie kry, vat hy ’n oomblik om dink… en sê dan dat alles in die lewe hom inspireer. “Ek vind inspirasie uit my binneste, dit wat ek voel, dit wat ek waarneem en sien, iets wat met mense om my gebeur en enigiets wat my hart raak en ander laat dink.”
Sy enkelsnit en musiekvideo, Gee my net kans, het ook onlangs die lig gesien en gaan daaroor dat mense nie moet wag totdat iemand nie meer met ons is en dan sy of haar musiek luister nie. “Ek sien dit nogal baie in vandag se tyd, mense is nie oop vir iets nuuts nie. En ek dink met Afrikaans kan mens regtig oopkop wees. Dis ’n taal waarmee ’n mens soveel ‘boundries’ kan ‘push’,” vertel Jacques. Dit is basies ’n liedjie wat mense uitnooi om die wie se liedjie nie soos die allerdaagse Afrikaanse liedjies klink nie, ook ’n kans te gee. “Ek voel mense moet alternatiewe klanke nóú waardeer en nie wanneer die persoon nie meer daar is nie.”
Die musiekvideo vir die snit is eenvoudig, dog kragtig. Vir die video het Jacques en die kreatiewe regisseur, Casper Labuschagne – wat ook verantwoordlik was vir Jacques se vorige musiekvideos – koppe bymekaar gesit. “Ons het besluit om ’n video te maak wat net ’n normale ‘performance’ is.” “Ek moet bieg, die musiekvideo doen baie beter as die videos met storielyne,” verduidelik Jacques.
Hy vertel dat daar partykeer baie waarde is in goed wat nie te ingewikkeld is nie. “Die volgende musiekvideo wat ons gaan maak, wil ons ook dié tegniek gebruik.”
Die musiekbedryf het vir Jacques al ’n hele paar houe gegee… “Wat die bedryf my geleer het, is om te werk. Jy kan nie verwag om iets daarbuite te sit en te hoop iemand gaan daarna luister nie. Ek het besef met almal wat ek mee gepraat het, dat dit baie harde werk verg om mense te kry om die musiek te luister as wat dit is om dit te maak. En veral nou dat daar nie shows is nie, moet mense soort van ’n digitale voetspoor hê om jou musiek te bemark.”
Jacques sê daar is nog so baie wat hy wil leer, en al vat dit hom nog 20 jaar, sal hy aanhou leer.
“Ek is musiek, ek gaan nie opgee daarmee.”