FOTO: Anthony Horak
Skaars drie maande sedert die musiekkroonprins van Moepelfontein sy buiging op die Weiveld-verhoog in Pretoria gemaak het, is hy terug om gehore verder te vermaak met partytjiemusiek uit die ‘Boon’-ste rakke!
Op Saterdag, 29 September 2018, hou BOON sy eerste vollengte konsert by dié gewildste kuierplek in Gauteng en dit beloof om die partytjie van die eeu te wees. Nie net gaan hy sy unieke verwerkings van bekende treffers opvoer nie, maar ook twee splinternuwe oorspronklike snitte vanaf sy komende album met aanhangers deel. Woes Mal, wat een van hulle is, is reeds baie goed ontvang op sosiale media.
Hierdie hoogsvermaaklike kunstenaar het in Julie vanjaar opslae gemaak met die bekendstelling van die Weiveld se nuwe temalied, Weiveld Click, met spitsvondige tong-in-die-kies-lirieke en ’n polsende lekkerluisterwysie, wat soos ’n waffers Amerikaanse kletsrymgedoente, afgespeel het op die rooitapyt – kompleet met ’n goue konfetti-ontploffing, flitsende kameras, lyfwagte en dansers wat hulle lywe op die lekker ritme kom rondswaai het.
LEES OOK: BOON laat Weiveld ontplof met nuwe temalied
BOON, wat sy musiek beskryf as ‘Trap’ (’n mengsel van Transmusiek en Kletsrym), is ’n baanbrekermusikant van die een-en-twintigste eeu wat deur internasionale musiekbase ontdek is in 2006, tydens een van sy optredes by Caesar’s Palace. Hy is ’n man van vele talente (bak, dans, sport, skryf), ’n vlymskerp humorsin en ’n onblusbare lewenslus, wat hom gewild maak onder oud en jonk. Hy deel tans ’n one bedroom met sy straatbrak, Bakkies Botha, in die stad. Die sanger is baie opgewonde om sy ‘Boontastiese’ talent en uniekheid met die wêreld te deel.
Kaartjies vir hierdie onvergeetlike konsert kan teen R70 gekoop word by www.Ticketpro.co.za of by die ingang (solank voorraad hou) en deure sal om 19:00 open.
Die jong sanger en liedjieskrywer, Kirsten Schlebusch, sal Saterdagaand se verrigtinge open. Al is hy net agtienjaar oud, is hy reeds ’n gesoute musikant met ’n pragtige stem en ’n groot aanhang. Hy is ook die seun van die suksesvolle musiekpaar, 2nd Life.
