Oops! It appears that you have disabled your Javascript. In order for you to see this page as it is meant to appear, we ask that you please re-enable your Javascript!

Elvis Blue stel nuwe snit spesiaal vir Vadersdag bekend

FOTO: Twitter; @elvisblue

Elvis Blue se eerste enkelsnit, Die Hartklop van ’n Pa, vanaf sy opkomende nuwe album is net betyds vir Vadersdag.

Elvis, wat self ’n familieman en pa is, sê dat hierdie liedjie hom na aan die hart lê. “Ek het gewonder wat ek vir my kinders sou wou sê as ek nie meer by hulle kon wees nie. Dit is waaraan ek gedink het toe ek hierdie liedjie geskryf het. Ek wou graag ’n klank gee aan hoe ek voel oor my kinders, en hierdie is wat uitgekom het,” vertel die sanger.

Volgens Elvis het hy ook aan sy eie ouers gedink en sy ervaring van hulle ouerskap probeer vasvang in hierdie liedjie. “Almal se ouers is nie dieselfde nie, party van ons het goeie ouers gehad, ander nie. Maar hoe klink die hart van ’n goeie pa? Om dít te verwoord is waarvoor ek gemik het.”

Die liedjie sal binnekort ook op radiostasies gehoor kan word met die musiekvideo wat op Vadersdag, 17 Junie uitgereik word. Die musiekvideo bevat videogrepe, wat Elvis Blue van sy aanhangers ontvang het. “Ons het mense op sosiale media gevra om video’s vir ons te stuur waar hulle ’n pappa-hart uitbeeld,” vertel Elvis.

Die Hartklop van ’n Pa sal ook op Elvis se jongste album, wat 23 Julie uitgereik word, beskikbaar wees.