FOTO: Verskaf
Die donkerkop sangeres, Mari Bosman, het pas ’n nuwe goedvoel liedjie oor hoop en vergifnis vrygestel. Dié liedjie wat in Mari se woorde as ‘rooiwyn rock’ beskou kan word, is deur die talentvolle sangeres self geskryf.
Hou Vas is ’n folk-popliedjie wat hoop gee in ’n donker land. “Met al die slegte dinge wat rondom ons aangaan en mense wat gou moed verloor, het ek die liedjie geskryf om mense weer ’n bietjie hoop te gee,” sê sy. “Kom waai die wind weer in my seile, die gif is uit my pyle, verwys na vergifnis. Ek glo dit speel ’n baie belangrike rol in aanbeweeg.”
Sean Manley het die verwerking van die liedjie gedoen, terwyl die bekwame Vaughan Gardiner gesorg het vir die meng en meester daarvan. Ricus Nel het op sy beurt gesorg vir die kitare op die liedjie.
Mari is oorspronklik van die Paarl, maar het onlangs Pretoria toe getrek om haar loopbaan in musiek te volg. Sy het reeds van kindsbeen af begin kitaar speel en liedjies skryf. Sy het onlangs BSc studeer aan die Universiteit van Stellenbosch en dis híér waar die musiekgogga haar gebyt het. Teaters soos Dorpstraat en Aan de Braak en verhoë deel met Valient en Koos het haar geïnspireer om musiek as loopbaan te kies. Sy het egter eers vir ses jaar Biologie gegee by Paarl Gimnasium. Die spreekwoord lui nie verniet: “teacher by day, rockstar by night.” Sy was immers ook deel van die Dogters van Man-groep in 2015 voor sy haar solo-loopbaan kon volg.
Mari sê sy hoop die nuwe liedjie sal mense laat goed voel, inspireer en aanmoedig om die lewe met al twee hande aan te pak. “Dit het ’n lekker ritme waarop daar gebraai, gedans of geroadtrip kan word, maar met ’n positiewe, dieper betekenis,” vertel sy. Sy wil hê luisteraars moet goedvoel en die liedjie moet hul harte raak.
Die musiekvideo, wat deur Deon van Wyk opgeneem is, speel hoofsaaklik in Vaughan Gardiner en Hugo Ludik se ateljee af en beeld die proses uit vanaf inspirasie kry vir ’n liedjie, tot die finale produk. Oor die storie van die video sê Mari: “Wat die video anders maak, is dat ek kykers betrek in die proses van liedjieskryf en opnames.”
Kyk die musiekvideo hier:
Mari is reeds twaalf jaar in die musiekbedryf doenig, en sê om ’n vehoog met van Suid-Afrika se top kunstenaars te deel, een van haar hoogtepunte is sover.
Sy put gereeld inspirasie uit plaaslike kunstenaars en liedjieskrywers soos Valient Swart, Jan Blohm, Karen Zoid en Elvis Blue. “Elvis se energie op die verhoog en die manier hoe sy lirieke en melodieë mense raak is iets besonders. Omdat ons genre baie dieselfde is, is dit waarna ek streef,” vertel sy. Nog een van haar gunsteling liedjieskrywers is Christoph Kotze, beter bekend as APPEL.
Mari sê dat alledaagse gebeure haar musiek inspireer en vertel: “Dit is baie onvoorspelbaar. Hou Vas se koor het ek geskryf terwyl ek my kar gesoek het in ’n groot parkeerarea. Iets eenvoudig soos ’n koerant berig kan ’n liedjie inspireer. Ek het baie liedjies geskryf met my kitaar en ’n bottel rooiwyn.”
Wanneer sy nie kon sing nie, sou sy graag ’n aktrise of veearts wou word. “Dis dalk te laat vir ’n veearts, maar ek sal graag nog toneel wou speel,” vertel sy. En waarna luister sy graag? “Ek is mal oor musiek uit die 60’s en 70’s. Dalk omdat ek ’n bietjie van ’n ou siel is! Ek hou ook van Country musiek en folk.”
Haar gunsteling musiek aanhaling is die van ene Bruce Springsteen, en lui: “The best music is essentially there to provide you something to face the world with.” Mari bieg ook dat niemand weet dat sy vir Maties branderplank gery het nie.
Mari glo soos die bedryf konstant verander moet kunstenaars hulself verander om by tye aan te pas. “Die musiekbedryf verg ook baie geduld, harde werk, geloof en uithouvermoeë,” vertel sy. Haar grootste uitdaging is juis om die pot aan die kook te hou. “CD-verkope het drasties gedaal as gevolg van die internet.”
Benewens die uitreiking van haar nuwe liedjie en musiekvideo is Mari ook druk besig om aan haar tweede album, wat in samewerking met BBS Records opgeneem word. Volgens Mari is die nuwe album vol lekker-luister-liedjies en musiek met ’n dieper betekenis. “Ek wil mense aanraak deur lirieke en hulle ’n rede gee om weer positief te voel oor die lewe en die liefde.”