Die sanger, Vincent Gordon, se nuwe enkelsnit, Laat Die Dansvloer Stamp, is onlangs uitgereik en bied ’n interessante samevoeging van EDM-, Dans- en RAP-style.
Vincent en Ferdinand Skead het kragte saamgenoer en dié liedjie geskryf en vervaardig. Die liedjie is deur Greylead Records opgeneem. En boonop sing die nuweling dit saam met die welbekende Dirk van der Westhuizen.
Vincent het onlangs by die platemaatskappy aangesluit en is tans besig om te skryf aan sy nuwe album. Luidens ’n verklaring is Laat Die Dansvloer Stamp, maar net een van die besondere liedjies wat verwag kan word op Vincent se debuut-album. Ferdinand Skead sal ook insette lewer in Vincent se volledige album.
“Laat Die Dansvloer Stamp is verseker een van die liedjies wat jy wil hoor in ’n klub, pub of sommer net op’n lekker kuier-naweek saam jou vriende en familie,” sê Vincent.
Luister hier na ’n voorsmakie:
Die lied doen reeds goed op media-platforms, radiostasies, asook by vertonings en is nou beskikbaar op alle digitale platforms.