Kom ons ontmasker. Kom ons word sterker. Haal af jou masker, kyk wat skuil daar agter. Gee jouself vlerke, jy weet jy’t geen perke. Haal af jou masker. Wys wat skuil daar agter… is lirieke uit Verona Goslett se debuut-enkelsnit waarmee sy nie net haar siel ontbloot nie, maar ook haar ongelooflike sangtalent met die wêreld deel.
Verona, met haar strelende stem, het beslis geen bekendstelling nodig in vermaakkringe nie. Dié kleindorpiemeisie van Meyerton het oor die afgelope paar jaar nie net naam gemaak as realiteitsprogramster, radio-omroeper en televisieaanbieder nie, maar ook as joernalis, vervaardiger en sanger.
Haar eerste Afrikaanse enkelsnit, Maskers, is pas vrygestel en het reeds die publiek gaande. Die snit, wat deur haar en Hugo Ludik geskryf is, het ’n folk-pop-aanslag met betekenisvolle lirieke en ’n meesleurende wysie wat die luisteraar vir lank sal bybly.
“Dit gaan oor die maskers wat jy dra in jou lewe. Die meeste van ons skuil agter maksers om ons ware self weg te steek en te beskerm. Dikwels bang om onsself te wys. Ons steek ook seerkry en swaarkry so weg. In hierdie liedjie probeer ek mense aanpor om van daardie maskers ontslae te raak waaraan jy so swaar dra, want om met maskers deur die lewe te gaan sal ʼn mens nooit leer nie,” vertel sy.
Volgens Verona, was ’n vriend van haar die inspirasie agter hierdie treffer. “Ek het ʼn vriend wat jare lank al in die vermaaklikheidbedryf as ‘jester’ werk. Hy het al baie vir my vertel hoe dit soms bevrydend is om daardie wit gesig op te verf en daaragter te skuil vir die aand se werk. Niemand ken jou nie. Jy verloor alle inhibisies en jy is vry. Somtyds is ʼn masker bevrydend, want as niemand jou kan sien nie is dit mos soveel makliker om te wees net hoe en wie jy wil wees. Dit het my laat dink aan die mensdom se alle daagse “maskers” wat ons saamdra. Daar is tog soveel verskillende maskers,” verduidelik sy.
“Mense steek seer weg, tree dalk skynheilig op, sit ʼn gesig op omdat jy dalk probeer voorgee wat jy nie waarlik is nie. Ons is te bang om onsself te wys. Te bang dat ander nie sal hou van wat hulle sien nie. Ironies genoeg het ek besef dat maskers so beperkend is. As jy nooit jouself kan wees nie, hoe sal jy groei of leer? Dis ook uitputtend om heeltyd voor te gee wat jy nie is nie.”
Luister hier na ’n voorskou van die lied:
Verona was vier die eerste keer toe haar talent ontdek is. Haar tannie sou haar by die skool kom optel en dan sou die twee uit volle bors sing op pad huis toe. Later is haar ma aangesê om haar vir sanglesse te stuur. Op 8-jarige ouderdom het Heidi Schoeman van die Ateljee van Uitvoerende Kunste haar ingeneem en het sy haar eerste liedjie by die Vereeniging Kunstefees opgevoer waarvoor sy ’n A++ gekry het.
Gedurende haar skoolloopbaan het sy gereeld aand Eisteddfods, skoolkonserte en kunstefeeste deelgeneem. Sy het ook haar Trinity Concert Certificate voltooi. Vir vier jaar was sy deel van die Suid-Gautengse Jeugkoor, Colla Vocé. Sy het so ’n bietjie musiekteorie gedoen, speel klavier en kitaar en probeer altyd nuwe uitdagings aanpak soos om die ukulele te bemeester.
Na skool het sy eers besluit om haar sangloopbaan opsy te skuif om te gaan studeer. By die Noord-Wes Universiteit se Vaaldriehoekkampus het sy haar honneursgraad in joernalistiek voltooi. Gedurende hierdie tyd het sy die kans gekry om vir wyle die karakter, Brionay, in 7de Laan te vertolk en was ook naaswenner van die realiteitsreeks op kykNET, Jy is my liefling. Sy en haar goeie vriend, Llewellyn du Plessis, was ook die vervaardigers en aanbieders van die ASTV-reeks, Vir Ewig en Altyd, wat oor die troubedryf gehandel het. Vir ʼn jaar lank het sy ook as omroeper by 90.6 FM Stereo, die Vaaldriehoek se plaaslike radiostasie, as mede-aanbieder van die ontbytprogram gewerk. As sy nie sing nie werk sy vir die tydskrif WILD&JAG/GAME&HUNT waar sy as joernalis die wildbedryf aanpak. Sy bestuur ook hulle sosialemedia en videoproduksie.
Laurika Rauch, Amanda Strydom, Anneli van Rooyen, Koos Kombuis en Anton Goosen is van die musikante wat van kleins af ’n invloed gehad het op Verona se musiekstyl. Sy het ook groot waardering vir internasionale sterre soos Adele, Nora Jones, Katie Melua, Florence and the Machine, Alanis Morisette, Ellie Golding, Rachel Platten, Annie Lennox, Etta James, Ella Fitsgerald en Roberta Flack se musiek. Die bedryf het haar geleer dat niks verniet kom nie en dat jy hard moet werk om jou drome te bereik.
“Ek hoop om soveel moontlik van my musiek aan die publiek bekend te stel, mense daarmee te inspireer en wie weet dalk ʼn lewe daaruit te maak,” vertel sy.
Die sangeres het nog baie drome om te verwesenlik, wat ’n nuwe album – waaroor sy baie opgewonde is – insluit. Sy sal ook nog graag saam met ander kunstenaar soos Elvis Blue, Karen Zoid, Freshly Groud, ADAM en Chris Chameleon wil werk en betrokke bly in die media- en televisiebedryf wanneer sy nie op die verhoog is nie.
“Ek hoop my debuutalbum ’n groot hoogtepunt sal wees. Ek wag al so lank hiervoor en dit is ʼn droom wat uiteindelik waar word,” deel dié talentvolle musikant.
Maskers is beslis ’n moet vir elke musiekliefhebber wat hou van liedjies met ’n boodskap. Die kombinasie van betekenisvolle lirieke, ’n vars en unieke lekkerluister-klank en ’n uitsonderlike stem, is die perfekte bestanddele vir ’n treffer wat oor baie jare steeds oor die radio gehoor gaan word.