Afrikaanse Musieknuus

Maak gereed vir ‘Krone’ op Loftus!

Die grootste saamsing jol in die land skud sy vere in 2023 weer reg en kies dié keer koers na Blou Bul-land. 

Dis reg ja… Krone gaan op 19 Augustus 2023 sy merk by Loftus Versveld in Pretoria maak en die konsert beloof om selfs groter en beter as ooit te vore te wees. 

“Ons werk reeds hard aan die konsert wat in Augustus gehou sal word,” sê Stephan van Huyssteen, bestuurder van lewendige optredes by Select Musiek. “Ek verstout my om te sê dat Krone se terugkeer lekkerder en groter as ooit gaan wees”.

Kaartjiehouers wat reeds in 2020 en 2021 kaartjies gekoop het, se kaartjies word na Krone by Loftus ‘23 oorgedra. Kaartjiehouers sal deur iTickets gekontak word met inligting of kaartjiehouers kan info@itickets.co.za of 086 100 0291 bel. Kaartjies vir Krone-Kaapstad kan ook oorgedra word na Krone by Loftus ’23 of ’n terugbetaling kan aangevra word by iTickets, aangesien die Kaapstad-vertoning nie meer gaan plaasvind nie.

Krone is ’n juweel in Afrikaanse musiek se kroon en 2023 gaan beslis weer bewys hoekom dit so is.

Bernice West, Juan Boucher, Eloff, Jan Jan Jan, Liezel Pieters, Nicholis Louw, Elizma Theron, Reën, Barto, Leah, Dirk van der Westhuizen, Prop, Christia Visser, Refentse, Appel, Brendan Peyper, Kurt Darren, Juanita du Plessis, Snotkop, Ricus Nel en Elandré gaan die jaar op die verhoog wees.

“Ons sit die heel lekkerste moewiese saamsing jol aanmekaar. Dit gaan ’n groot bederf wees. ’n Krone-vertoning wat julle nog nooit beleef het nie. Bring almal met gees saam!” sê Ernst Kleinhans van Select Musiek, organiseerders van die Krone-konserte. “Ons sien uit om die grootste en geselligste Krone-gehoor nóg te verwelkom by Loftus. Ons kan nie wag nie!”

Exit mobile version