Franja, een van Suid-Afrika se mees geliefde vroulike kunstenaars, staan op die punt om haar aanhangers te verras met die vrystelling van haar splinternuwe enkelsnit, “Vere” op 4 Oktober. Sedert sy die musiekbedryf in 2017 betree het met haar debuutalbum, het sy naam gemaak met haar energieke partytjietreffers wat luisteraars oor die land heen aan die dans gekry het. Haar vorige enkelsnit, “Lisensie”, het ’n buitengewone sukses geword en is reeds meer as 2 miljoen keer gestroom binne minder as 90 dae.
LEES OOK: Franja gaan die dansvloere laat kook met nuwe treffer
Met “Vere” bring Franja weer iets nuuts na die tafel, hierdie keer ’n tong-in-die-kies treffer wat ’n eg Afrikaanse ritme bevat. Die liedjie beloof om ’n vrolike atmosfeer te skep en luisteraars aan die beweeg te kry. Met ’n aansteeklike melodie wat maklik in jou kop vassteek, sal “Vere” vir seker ’n gunsteling wees onder haar volgelinge.
Die liedjie het ’n interessante oorsprong, aangesien dit deur Franja self geskryf is en geïnspireer is deur ’n bekende atletiekliedjie. Tog het dit ’n dieper betekenis wat fokus op die uitdagings van boelie-gedrag op sosiale media. Franja deel haar persoonlike ervaring met afbrekende kommentaar aanlyn en sê: “Afbrekende kommentaar op sosiale media het so die norm geword deesdae dat mense nie meer dink voor hulle skryf nie. Ek wil met die liedjie myself en my aanhangers herinner dat mens nie alles wat mense oor jou op sosiale media skryf hart toe moet neem nie. Veral as dit mense is wat jou nie goed ken nie. Ons voel net ‘Vere’ en fokus op die mooi in die lewe.”
“Vere” sal vanaf 4 Oktober op alle digitale platforms beskikbaar wees, en die musiekvideo sal op 11 Oktober volg. Aanhangers kan uitsien na nog ’n opwindende treffer van hierdie talentvolle kunstenaar!

