Afrikaanse Musieknuus

Brendan Peyper spog met ‘ander bates’

Brendan Peyper is besig om behoorlik opslae te maak – nie net met sy stem en soetkoek-verkope van sy nuutste album nie, maar ook met sy ‘ander bates’.

Die 21-jarige sangsensasie wat spog met ’n hele rits ranglys treffers, topklas-verkope en ’n tjok-en-blok optredeskedule, is aangewys as een van twaalf finaliste in die Cosmopolitan SA Sexiest Men 2018 kompetisie – iets wat diegene wat al met lam knieë moes kar se kant toe staan na een van sy optredes dit een sal wees hy deur en deur verdien! Van die finaliste was onder andere Rudi Witkowsky, Jesse Suntele, Josh Wantie en Blake Williams.

Brendan is een van twaalf finaliste in die Cosmopolitan SA Sexiest Men 2018 kompetisie

LEES OOK: Brendan Peyper sê vanaand nét ja!

Brendan is ook gekies as een van die deelnemers aan die agtste seisoen van Tropika Island of Treasure, waar sewe bekendes – onder andere Melinda Bam, Karabo Mogane en Tumi Voster – en sewe deelnemers van die publiek in spanne – en op die agtergrond van die idilliese Maldives – deelneem vir ’n allemintige R1 miljoen in harde kontant. Die kompetisie bestaan uit ’n stel moeilike uitdagings wat deelnemers se ratsheid, handvaardigheid, koördinasie, uithouvermoë en intelligensie tot die uiterste sal beproef en word elke Maandag aand om 19:30 op SABC 3 uitgesaai.

Brendan is ook een van die deelnemers in die agtste aflewering van Tropica Island of Treasures

Hierdie opwindende gebeure volg kort op die hakke van die vrystelling van Brendan se nuutste album, Hy loop oop, wat, benewens die titelsnit, ander danstreffers soos Vanaand sê ek net ja, en Net ’n bietjie, tot twosteps soos Ek gee jou my woord, regdeur tot by rustiger snitte soos Twee is beter as een, Jou mond is in die pad, Sal jy my vergewe en ’n pragduet, In silhouette saam met my, saam met Franja du Plessis insluit.

“Al hierdie dinge het skielik op my pad gekom, maar dis ’n baie opwindende tyd vir my en ek gryp elke geleentheid met ope arms aan”, sê Brendan. “Ek is innig dankbaar vir elke nuwe deur wat oopgaan, elke stem, elke bietjie aanmoediging, elke paar voete by ’n konsert en elke album wat ek met iemand kan deel!”

Exit mobile version