Site icon Afrikaanse Musieknuus

Kurt Darren en Zaan Sonnekus blaas nuwe lewe in ikoniese ‘Meisie Meisie’

FOTO: Verskaf

Kurt Darren en Zaan Sonnekus maak elkeen groot golwe in die Afrikaanse musiekbedryf, en nou span dié twee gewilde kunstenaars kragte saam vir ’n vars weergawe van een van Afrikaans se bekendste saamsingtreffers.

Op 18 September kry Kurt se ikoniese “Meisie Meisie” splinternuwe lewe wanneer hy en Zaan hul unieke style saambring vir ’n moderne weergawe van die liedjie wat reeds vir generasies gehore aan die sing en dans kry.

“Meisie Meisie” het oor die jare sinoniem geword met lekker kuier, dansvloere en daardie kenmerkende Kurt Darren-energie. Met die nuwe weergawe word die nostalgie van die oorspronklike behou, maar Zaan se vars en eietydse aanslag gee die bekende treffer ’n splinternuwe karakter.

Die kombinasie van Kurt se tydlose energie en Zaan se unieke styl sorg vir ’n vrystelling wat oud en nuut moeiteloos bymekaarbring. Die bekende refrein bly voorop en beloof om bestaande aanhangers én ’n nuwe generasie weer uit volle bors te laat saamsing.

Saam met die enkelsnit word daar ook ’n musiekvideo op 18 September bekendgestel wat die gees van “Meisie Meisie” behoorlik vasvang.

Die video speel af rondom ’n groot huispartytjie waar goeie vriende, die band en lojale aanhangers saamkuier en die musiek geniet. Tussen al die pret en onvergeetlike oomblikke maak Kurt se vrou, Dunay, ook ’n spesiale verskyning.

Die resultaat is ’n viering van ’n liedjie wat oor die jare deel geword het van talle Suid-Afrikaners se herinneringe – maar hierdie keer met ’n nuwe klank en energie.

As jy al ooit die woorde van “Meisie Meisie” uit volle bors saamgesing of die bekende bewegings op die dansvloer uitgehaal het, maak gereed om dit alles weer van voor af te beleef.

Exit mobile version