Site icon Afrikaanse Musieknuus

Droomsindroom vier die mense wat lig bring met ‘Vir Die Son’

FOTO: Verskaf

Die gewilde broerduo Droomsindroom is terug met ’n splinternuwe enkelsnit, “Vir Die Son” – ’n warm en opregte liedjie wat luisteraars herinner aan die mense en klein dinge wat die lewe betekenis gee.

Die inspirasie vir dié liedjie het ontstaan uit ’n eenvoudige vraag: Waarvoor leef jy?

In die aanloop tot die skryf van “Vir Die Son” het Droomsindroom dié vraag ook aan hul volgelinge op sosiale media gestel. Die antwoorde het ’n duidelike boodskap uitgelig: vir die meeste mense lê die grootste betekenis van die lewe nie noodwendig in groot dinge nie, maar in vriende, familie, geliefdes, geloof én God.

“Die mense vir wie ons lief is, is soos die son in ons lewens – hulle bring lig en warmte,” vertel die duo. “Dit is waar die idee vandaan kom dat ons leef vir die son wat binne-in die mense vir wie ons lief is, leef.”

Droomsindroom het “Vir Die Son” self geskryf, iets wat vir die broers besonder belangrik is omdat dit hulle die geleentheid bied om hul eie ervarings, emosies en perspektief eerlik deur hul musiek te deel.

Die kernboodskap van die liedjie is eenvoudig, maar treffend: Ons leef vir die son wat leef in die mense vir wie ons lief is.

Met “Vir Die Son” wil Droomsindroom luisteraars aanmoedig om weer die lig rondom hulle raak te sien – daardie mense, oomblikke en klein vreugdes wat maklik in die gejaag van die alledaagse lewe misgekyk word.

Die enkelsnit word ook vergesel deur ’n musiekvideo wat die broers self geskiet het. Net soos die liedjie is die video persoonlik, lig en eg, met die fokus op die eenvoudige vreugdes wat die lewe besonders maak.

Daar is geen ingewikkelde storielyn nie. In plaas daarvan sien kykers hoe die broers saam tyd spandeer, pret het en die sonnige oomblikke van die lewe geniet. Dit bied ook ’n besondere kykie na hul verhouding as broers – ’n band wat vanselfsprekend ’n groot deel vorm van waarvoor hulle self leef.

Die resultaat is ’n ligte, sonnige en feel-good musiekvideo wat die hart van die liedjie perfek weerspieël: son, lig, warmte, geliefdes en die klein oomblikke wat uiteindelik die grootste betekenis dra.

Kyk die musiekvideo hier: 

Met “Vir Die Son” herinner Droomsindroom ons dat ’n mens soms nie ver hoef te soek na ’n rede om te leef nie. Soms is dit reeds daar – in die mense langs jou, die liefde wat julle deel en die lig wat hulle elke dag in jou lewe bring.

Exit mobile version