Site icon Afrikaanse Musieknuus

Brendan Peyper verlang na die ‘ou dae’ in nuwe enkelsnit

FOTO: Verskaf

Dubbelplatinumverkoper Brendan Peyper sit sy indrukwekkende suksesverhaal voort met die vrystelling van sy splinternuwe enkelsnit, “Ou Dae” – ’n nostalgiese liefdeslied wat luisteraars terugvoer na jong liefde, eenvoudiger tye en die herinneringe wat ’n mens vir altyd bybly.

Ná treffers soos “Kyk”, “Rooivlag” en “Moegdans”, wat groot sukses op treffersparades behaal het, wys Brendan met dié vrystelling weer waarom hy een van Afrikaans se gewildste kunstenaars is.

“Ou Dae” kyk met verlange terug na ’n tyd toe die lewe eenvoudiger gevoel en liefde moeiteloos gekom het. Die liedjie roep herinneringe op aan MXit-gesprekke, laatnag-Coco Pops, DVD’s voor die kaggel, eerste soene, garage bands en sorgvrye avonture.

Met herkenbare lirieke en Brendan se kenmerkende storievertelstyl vang die liedjie daardie bittersoet gevoel vas wanneer ’n mens terugdink aan die mense, plekke en oomblikke wat jou gevorm het. Dit is ’n viering van jong liefde en die herinneringe wat, selfs jare later, steeds soos gister voel.

Die aansteeklike melodie en onmiskenbare Brendan Peyper-klank maak van “Ou Dae” ’n liedjie waarmee aanhangers maklik sal kan vereenselwig én saam sing.

Die enkelsnit word ook vergesel deur ’n amptelike musiekvideo wat die nostalgiese temas en kosbare herinneringe uit die liedjie op die skerm tot lewe bring.

Exit mobile version