Site icon Afrikaanse Musieknuus

Irene-Louise van Wyk en Early B laat die somer vroeg begin met ‘Biri Boem Boem’

FOTO: Verskaf

Twee van Suid-Afrika se grootste en gewildste kunstenaars, Irene-Louise van Wyk en Early B, span weer kragte saam vir ’n splinternuwe enkelsnit wat beslis mense aan die praat én aan die dans gaan kry.

“Biri Boem Boem” word op 28 Augustus uitgereik en is die duo se tweede samewerking. Hul eerste duet, “Hou Jou Hande Van My Lyf Af”, het reeds gewys dat dié twee kunstenaars se uiteenlopende style ’n besonderse kombinasie vorm.

Ná die sukses van treffers soos “Tekkies Brand” en “Waar Gaan Ons Dans Vanaand” deur Irene-Louise van Wyk, asook Early B se gewilde liedjies “Potte” en “Ben Ten”, bring hulle nou weer hul kenmerkende energie en persoonlikheid saam.

Met ’n aansteeklike ritme, speelse aanslag en onmiskenbare somerklanke is “Biri Boem Boem” bestem om ’n gunsteling op speellyste, radiostasies en dansvloere te word. Die liedjie se opgewekte klank skep sommer dadelik ’n feestelike atmosfeer en laat jou voete vanself begin beweeg.

Die enkelsnit word ook deur ’n musiekvideo vergesel, wat nóg meer opwinding rondom hierdie hoogs verwagte samewerking bring en die liedjie se energieke karakter visueel vasvang.

Of jy nou saam met vriende om die braaivleisvuur kuier, op ’n langpad-avontuur is of uit volle bors by ’n vertoning saamsing – “Biri Boem Boem” is die soort liedjie wat almal betrek.

Met Irene-Louise van Wyk en Early B agter die mikrofoon, is die somer beslis gereed om met ’n groot boem af te skop. “Biri Boem Boem” is vanaf 28 Augustus op alle digitale stroomdienste beskikbaar.

Exit mobile version