Twee van Afrikaans se mees unieke alternatiewe kunstenaars, Schwabie en Vreemd, slaan vir die eerste keer musikale hande saam met hul splinternuwe enkelsnit “Misdaad” – ’n samewerking wat niemand sien kom het nie, maar een wat van die eerste luister af sin maak.
Die liedjie bring twee kunstenaars bymekaar wat reeds elkeen hul eie stempel op die plaaslike musiektoneel afgedruk het. Met “Misdaad” smelt hul onderskeie style saam om ’n vars, energieke klank te skep waarin eerlike lirieke, rou emosie en aansteeklike melodieë mekaar perfek aanvul.
Die samewerking het egter amper heeltemal anders verloop.
“Ek het vroeër hierdie jaar by Dkoda aangeteken en was besig om nuwe musiek in die ateljee op te neem,” vertel Vreemd. “Die oorspronklike plan was eintlik dat ek op een van Schwabie se liedjies sou feature, maar ek het gevoel dit wat hy klaar geskryf het, was te perfek vir my om daaraan te krap. Ek was toe besig om ‘Misdaad’ te skryf en het nog ’n tweede vers nodig gehad. Toe besluit ons eerder dat hy daarop moet skryf. Ek dink hy het ’n briljante werk met daardie vers gedoen, en toe het alles perfek uitgewerk.”
Vir Schwabie het die kreatiewe proses net so natuurlik verloop.
“Vreemd was in die studio gewees en ek het ’n draai gemaak om te kyk hoe dit gaan. Hy het my gevra of ek op die liedjie wil wees en ek het my vers binne omtrent 15 minute geskryf. Dit het baie maklik gevloei.”
Hoewel “Misdaad” ’n sterk refrein en energieke produksie het, lê die ware krag van die lied in sy boodskap.
“Vir my gaan dit oor my eie misdaad – die goed wat ek doen wat myself terughou in die lewe,” verduidelik Vreemd. “Hoe lank gaan ek nog wag voordat ek my slegte gewoontes kan afleer om ’n beter man te wees?”
Schwabie sê hy kon hom onmiddellik met dié tema vereenselwig.
“Ek het maar ingeval by die tema wat Vreemd reeds vir die lied neergelê het. Ek glo dis ’n baie sterk boodskap wat ons oordra en dit was maklik om self ook daaroor te skryf.”
Volgens Vreemd verskil “Misdaad” ook musikaal van sy vorige werk.
“Wat ‘Misdaad’ anders maak as die meeste van my vorige liedjies – behalwe miskien ‘Verander’ – is dat dit ’n baie meer saamsingbare koor het. Op my vorige EP het die meeste liedjies instrumentale kore gehad. Hierdie keer wou ek minder fokus op kitaarlyne en instrumentale gedeeltes, en eerder op ’n sterk refrein wat mense kan saamsing. Ek voel ook ons het dit reggekry om ruimte te skep waar elkeen van ons sy eie ding goed kan doen.”
Vir Schwabie was die liedjie ook ’n geleentheid om buite sy gewone musikale grense te beweeg.
“Dis verseker bietjie buite my normaal. Dis meer alternatief as my gewone musiek en beslis meer upbeat.”
Hoewel daar nie ’n amptelike musiekvideo vir “Misdaad” vervaardig is nie, is daar steeds baie aandag aan die visuele identiteit van die vrystelling gegee.
“Ons het na ’n ou steengroef buite George gegaan om inhoud te skiet,” vertel Vreemd. “Ek dink dit lyk ongelooflik.”
Die lirieke van “Misdaad” spreek iets aan waarmee baie mense kan identifiseer – die stryd om jou eie tekortkominge te erken en doelbewus te kies om te groei.
“Vreemd en ek bring eerlikheid oor iets wat partymaal moeilik is om self te erken,” sê Schwabie. “Ons as mense is nie perfek nie. Ons doen soms goed wat ons weet verkeerd is – ons eie ‘misdaad’ – maar solank ons aanhou werk om beter mense te wees, sal daar altyd iets moois wees om na te streef.”
Met “Misdaad” bewys Schwabie en Vreemd dat die beste samewerkings dikwels die onverwagsste is. Dit is ’n eerlike, treffende en energieke enkelsnit wat luisteraars nie net laat saamsing nie, maar ook laat nadink.
Schwabie is ’n vars stem in die voortdurend ontwikkelende Afrikaanse musiektoneel. Hy meng rou emosie met aansteeklike energie om ’n klank te skep wat onmiskenbaar sy eie is. Met lirieke wat diep tref en ritmes wat jou aan die beweeg hou, vertel hy stories waarmee luisteraars op ’n egte vlak kan vereenselwig. Aangedryf deur passie en egtheid is Schwabie nie hier om neigings te volg nie – hy is hier om sy eie pad te loop.

