Site icon Afrikaanse Musieknuus

Die TJAART! Afrikaanse musiek se top-20

FOTO: Verskaf

’n Opwindende nuwe hoofstuk breek aan vir die Afrikaanse musiekbedryf met die bekendstelling van Die TJAART! – Die Afrikaanse Musiek Chart Show, wat op Donderdag 6 Augustus 2026 om 19:00 sy première op YouTube maak.

Vir die eerste keer kry Afrikaanse musiek ’n amptelike maandelikse treffersprogram wat die Top-20 grootste Afrikaanse liedjies in Suid-Afrika op grond van werklike luister- en kykgedrag rangskik. Dié program, aangebied deur Reandi Grey, bring nie net die grootste treffers na kykers nie, maar bied ook eksklusiewe inhoud, kunstenaarsgesprekke en die jongste nuus uit die plaaslike musiekbedryf.

Wat Die TJAART! uniek maak, is dat die ranglys nie deur stemme of persoonlike menings bepaal word nie. Elke posisie word bereken uit amptelike stroom- en kykdata van Spotify, YouTube en YouTube Music. Die statistiek word volgens die gemiddelde daaglikse strome en kyke van die voorafgaande tydperk verwerk om ’n akkurate weerspieëling te gee van waarna Afrikaanse musiekliefhebbers werklik luister.

“Met ander woorde – julle luister en kyk, en ons tel. Die TJAART! is jóú show,” sê die span agter die nuwe produksie.

Benewens die maandelikse top-20 bied die program ook eksklusiewe onderhoude met kunstenaars, agter-die-skerms-inhoud, interessante stories oor nuwe musiek en die gebeure wat die Afrikaanse musiekbedryf aan die gang hou.

Die eerste episode verwelkom Zaan Sonnekus as ateljeegas. Kykers kry die geleentheid om hom beter te leer ken, meer te hoor oor sy persoonlike reis, sy nuwe musikale rigting en sy splinternuwe enkelsnit.

Die eerste ranglys is saamgestel uit data wat tussen 1 Junie en 22 Julie 2026 versamel is en bied ’n geloofwaardige blik op die liedjies wat gedurende dié tyd die grootste impak op digitale platforms gemaak het.

Maar die ervaring eindig nie wanneer die krediete rol nie.

Die TJAART! se sosialemediakanale gaan ’n bestemming wees vir nog meer eksklusiewe inhoud, waaronder ekstra kunstenaarsmateriaal, agter-die-skerms-oomblikke, kompetisies, giveaways en interaktiewe gesprekke met kykers. Aanhangers word aangemoedig om deel te neem, aangesien hul vrae, kommentaar en menings selfs in toekomstige episodes ingesluit kan word.

Met die bekendstelling van Die TJAART! kry die Afrikaanse musiekbedryf uiteindelik ’n moderne, data-gedrewe platform wat die polsslag van die bedryf vasvang en wys waarna Suid-Afrika se Afrikaanse musiekaanhangers regtig luister.

Die TJAART! – Die Afrikaanse Musiek Chart Show se eerste episode is vanaf Donderdag, 6 Augustus 2026 om 19:00 op YouTube beskikbaar.

Dis nie net nóg ‘n treffersparade nie.

Dis die amptelike polsslag van waarna Afrikaans luister.

Moenie die eerste episode misloop nie – dis jóú TJAART!

Exit mobile version