Die Afrikaanse sangeres Annelie is terug met ’n splinternuwe enkelsnit wat beslis nie ongemerk gaan verbygaan nie. Met “Gevaar” lewer sy ’n vars, energieke en speelse Afrikaanse pop- en sokkietreffer wat luisteraars sal laat saamsing, dans en dalk selfs hul eie “rooi vlag”-verhale laat onthou.
Met sy aansteeklike ritme, sterk hook en vrolike energie wys “Gevaar” ’n nuwe, waaghalsige kant van Annelie. Die liedjie is ’n tong-in-die-kies kyk na daardie persoon wat jy weet moeilikheid gaan beteken, maar wat eenvoudig te onweerstaanbaar is om te ignoreer.
“Ek was weer lus om ’n lekker saamsing-sokkie liedjie te skryf,” vertel Annelie. “Ek wou skryf oor iets waarmee mense kan identifiseer, en ek is seker almal van ons het al iemand ontmoet wat ’n rooi vlag is, maar steeds is jy nuuskierig!”
Hoewel die liedjie met humor en ligtheid speel, raak dit aan ’n ervaring waarmee baie mense kan vereenselwig. “Gevaar” balanseer die waarskuwingstekens van ’n verhouding met die opwinding, chemie en aantrekkingskrag wat soms alle logika oorheers. Dit is terselfdertyd ’n waarskuwing én ’n viering van daardie vonk wat mense laat waag, lag en leef.
Een van die lied se mees treffende lirieke, “Ek weet jy’s als behalwe soet, maar dis presies wat ek soek,” som die tema perfek op. Dit is ook Annelie se gunsteling oomblik in die lied.
“Die ‘breuk’ in die musiek het daai lyn nog meer laat uitstaan en ek kon dit met baie passie sing,” sê sy.
Nog ’n sterk beeld in die lied is die beskrywing van iemand as “’n wilde storm in my somer”. Vir Annelie simboliseer dit iemand wat chaos bring, maar terselfdertyd nuwe energie, opwinding en selfs verligting.
“Soos ’n somerstorm wat afkoeling bring ná ’n warm dag, kan hierdie tipe persoon ook iets in jou wakker maak wat jy nie kan ignoreer nie, al weet jy dit kan gevaarlik wees.”
Met “Gevaar” bewys Annelie dat sy nie bang is om haar musikale grense te verskuif nie. Hoewel sy bekend is vir eerlike, emosionele storievertelling, wys hierdie enkelsnit haar speelse, selfversekerde en avontuurlike kant.
“Ek probeer my musiek veelsydig hou sodat almal aanklank kan vind. Hierdie liedjie is vol pret en het my forseer om anders te dink en te skryf.”
Annelie het reeds haar plek in die Afrikaanse musiekbedryf gevestig met treffers soos “Deuntjie”, “Enkelvoud”, “Wat As”, die duet “Laaste Wens” saam met Brandon Miles, asook “Stellenbosch in die Somer” saam met Ollyvans. Met “Gevaar” bou sy voort op hierdie veelsydigheid en voeg sy nóg ’n dinamiese hoofstuk tot haar groeiende katalogus by.
Bekend vir haar mengsel van Afrikaanse pop met ‘n tikkie country, bly Annelie getrou aan haar liefde vir storiegedrewe musiek wat mense laat voel. Terselfdertyd bewys sy met “Gevaar” dat sy net so gemaklik musiek kan maak wat mense laat opstaan en saam dans.
Vir haar is die grootste wens eenvoudig.
“Ek hoop dit maak iets prettig in mense wakker, dat hulle wil dans en saamsing. Ongeag van die lirieke, het die musiek ’n baie lekker Afrikaanse dansgevoel.”
Benewens die vrystelling van die enkelsnit word “Gevaar” ook deur ’n splinternuwe musiekvideo vergesel, met nóg nuwe musiek wat later vanjaar van Annelie verwag kan word.
Met sy aansteeklike energie, slim lirieke en onweerstaanbare dansritme is “Gevaar” alles wat ’n moderne Afrikaanse poptreffer moet wees. Dit is rebels, speels, eg Suid-Afrikaans en gemaak vir radio, dansvloere, langpadritte en kuieraande saam met vriende.
As hierdie “Gevaar” jou pad kruis, is die waarskuwing eenvoudig: moenie sê Annelie het jou nie gewaarsku nie.

