Ná drie onvergeetlike konserte by Loftus Versfeld in Pretoria maak Krone in 2027 weer sy terugkeer na die SunBet Arena.
Vir aanhangers van dié gewilde saamsingkonsert is dit groot nuus. Ná byna drie jaar onder die oop lug by Loftus, skuif Krone terug na die binnenshuise arena waar duisende musiekliefhebbers vir jare saam gesing, gedans en herinneringe gemaak het.
Krone se verhaal het oorspronklik in die GrandWest Arena in Kaapstad begin. Die konsep het vinnig gewild geraak en is daarna ook na Carnival City se Big Top Arena in Johannesburg uitgebrei.
Toe die SunBet Arena in Pretoria in 2017 sy deure open, het Krone daar sy nuwe tuiste gevind en vinnig een van die gewildste Afrikaanse musiekgeleenthede op die kalender geword.
Die Covid-19-pandemie het egter die bedryf tot stilstand gedwing. Met die terugkeer van groot konserte is Krone in 2023 na Loftus Versfeld verskuif, waar drie suksesvolle aanbiedings gevolg het.
Nou breek ’n nuwe hoofstuk aan – terug in die arena.
Wanneer is Krone 2027?
Belangrik om te weet: Daar sal géén Krone-konsert in 2026 wees nie.
Die volgende Krone-konsert vind plaas op:
- Saterdag, 17 April 2027 – 12:00 en 19:30
- Sondag, 18 April 2027 – 12:00
Drie vertonings beteken meer geleenthede vir aanhangers om deel te wees van een van die grootste musiekvieringe.
Kaartjiepryse
Kaartjiepryse wissel tussen:
- R395 vir die goedkoopste kaartjies
- R745 vir die duurste kaartjies
Die volledige vloerplan en prysuitleg is op die amptelike kaartjie-inligting beskikbaar.
Wanneer begin kaartjieverkope?
Kaartjies is vanaf Vrydag, 24 Julie 2026 om 08:00 eksklusief via iTickets beskikbaar.
Wie gaan optree?
Die grootste vraag bly natuurlik: Wie is op die verhoog?
Die kunstenaars vir Krone 2027 is nog nie aangekondig nie. Soos in vorige jare kan aanhangers egter uitsien na ‘n indrukwekkende groep van Suid-Afrika se gewildste Afrikaanse kunstenaars wat saam die verhoog sal deel.
Meer besonderhede oor die kunstenaarlys sal later bekend gemaak word.
Met ‘n terugkeer na die SunBet Arena, drie vertonings en die belofte van nóg ‘n onvergeetlike musiekervaring, lyk dit of Krone 2027 reeds besig is om een van die grootste hoogtepunte op die Afrikaanse musiekkalender te word. Hou dus Vrydag, 24 Julie om 08:00 dop – want as die geskiedenis iets wys, is dit dat Krone-kaartjies nie lank beskikbaar bly nie.

