Die opkomende Afrikaanse sanger Richann neem luisteraars op ’n nostalgiese reis na die hart van die platteland met sy splinternuwe enkelsnit, “Mielielande”, wat op Vrydag, 17 Julie vrygestel word. Met sy opregte lirieke, romantiese tema en aansteeklike sokkieklank vier die lied die eenvoud van liefde en die herinneringe wat vir altyd by ‘n mens bly.
Die inspirasie vir die lied het uit ’n onverwagte bron gekom. Richann se pa het hom aangemoedig om ‘n lied oor dans in ’n mielieland te skryf – ’n idee wat aanvanklik vreemd geklink het, maar gou ontwikkel het tot ’n pragtige liefdesverhaal waarin die platteland, drome en romanse saamvloei.
“Het jy al ooit in ’n mielieland gedans? Ek het nog nooit daaraan gedink nie… tot my pa vir my die idee gegee het om ’n liedjie daaroor te skryf. Dis juis daardie droombeeld van twee mense wat onder die sterre tussen die mielies dans wat my geïnspireer het,” vertel Richann.
Die romantiese verhaal van “Mielielande” word verder uitgebou in die musiekvideo waarin Richann en sy verloofde saam die hoofrolle vertolk. Ten spyte van yskoue weersomstandighede het die paartjie letterlik tussen die mielielande gedans om hul eie liefdesverhaal vas te vang.
Een van die mees betekenisvolle oomblikke in die video wys hoe sy haar tekkies verruil vir ‘n paar vellies – ’n simboliese toneel wat haar reis na die plaas en die nuwe hoofstuk van hul lewe saam uitbeeld terwyl hulle voorberei om in die huwelik te tree.
Van die begin af was Richann se visie vir die liedjie duidelik: hy wou ’n egte sokkietreffer skep waarop mense kan dans, saam sing en nuwe herinneringe kan maak.
Met sy warm plattelandse atmosfeer, pakkende melodie en opregte boodskap is “Mielielande” ’n liedjie wat aanklank sal vind by liefhebbers van Afrikaanse musiek en almal wat glo dat die mooiste liefdesverhale dikwels in die kleinste, eenvoudigste oomblikke geskryf word.
“Dis ’n liedjie oor liefde, die platteland en daardie eenvoudige oomblikke wat ‘n mens nooit wil vergeet nie. Ek hoop dit laat mense saam sing, glimlag en miskien selfs droom om ook eendag in ‘n mielieland te gaan dans,” sê Richann.

