Lianie May is terug met ’n splinternuwe enkelsnit wat presies op die régte tyd arriveer. In ’n wêreld waar stygende lewenskoste, negatiewe nuus en alledaagse uitdagings maklik die oorhand kan kry, bied “Chill Pill” ’n verfrissende herinnering dat ’n bietjie humor en perspektief soms die beste medisyne is.
Met haar kenmerkende warmte, eerlikheid en tong-in-die-kies aanslag lewer Lianie ’n liedjie wat luisteraars laat glimlag én saamstem. “Chill Pill” is ’n viering van die Suid-Afrikaanse gees – die vermoë om selfs in moeilike tye kop bo water te hou, die braaivleisvuur aan te steek en eenvoudig aan te gaan.
Die slim lirieke tref die kol met waarnemings soos: “Die wêreld is vol anargie / Maar die boere is nog steeds hier,” en herinner ons dat Suid-Afrikaners nog altyd bekend was vir hul veerkragtigheid. Of die olieprys styg, die ekonomie druk of die wêreld weer eens op sy kop lyk – ons vind steeds ’n manier om aan te pas, saam te lag en vorentoe te beweeg.
Vir Lianie het “Chill Pill” egter ook ’n baie persoonlike betekenis.
“As jy kyk na wat ‘Chill Pill’ vir jóú as mens en kunstenaar beteken—veral met die lewe op die plaas, die gejaag van die musiekwêreld en alles tussenin, gaan dit oor daardie oomblik waar jy doelbewus die foon neersit, die geraas uitskakel en net asem haal. Vir my is ‘Chill Pill’ nie net ’n liedjie nie; dis my eie medisyne teen die gejaag van die lewe. Dit gaan oor daardie oomblik van rustigheid waar jy besef: die wêreld kan maar vir ’n minuut wag. Dis tyd om net te wees,” vertel sy.
As een van Afrikaans se gewildste en mees geliefde kunstenaars, met treffers soos “Jy Soen My Nie Meer Nie”, “Bietjie Benoni” en “Pleister Vir My Hart”, het Lianie oor die jare bewys dat sy presies weet hoe om liedjies te skep wat diep aanklank vind by haar gehoor. “Chill Pill” bou voort op dié nalatenskap met ’n opgewekte melodie, aansteeklike koor en lirieke wat lank ná die eerste luisterbeurt in jou kop bly speel.
Kyk die musiekvideo hier:
Meer as net ’n lekker saamsing-treffer, is “Chill Pill” ’n uitnodiging om die lewe nie té ernstig op te neem nie. Met die inspirerende boodskap: “Moenie ’n suur tier wees nie, man / Maak lemonade!” herinner Lianie luisteraars daaraan dat daar altyd ruimte is vir hoop, humor en ’n positiewe gesindheid – selfs wanneer die wêreld chaoties voel.
Met sy ligte aanslag, herkenbare Suid-Afrikaanse verwysings en universele boodskap beloof “Chill Pill” om vinnig sy plek te vind op radiostasies, speellyste en by braaivleisvure regoor die land. Dis die perfekte klankbaan vir elkeen wat net vir ’n oomblik wil ontspan, asemhaal en onthou dat die lewe soms eenvoudig beter lyk met ’n glimlag.

