Daar wag nooit ’n “regte tyd” om skeppend te wees nie. Teen die tyd wat jy dink jy het die lewe uitgepluis, is jy vyftig. Vir Neil Sandilands was dit juis die vertrekpunt van Vyftig Apokriewe — ’n album wat nie net dien as ’n kreatiewe mylpaal nie, maar ook as ’n diepgaande gesprek met ouderdom, ervaring, twyfel, identiteit en die tydsgees waarin ons leef.
Vir Sandilands is die projek nie bloot nóg ’n album nie. Dis ’n argief van waarnemings, idees en emosies wat oor dekades heen opgebou is. Sommige liedjies het hul oorsprong reeds in sy studentejare, terwyl ander in die afgelope jaar geskryf is ná sy vorige album, Land & Sand. Tog voel niks aan Vyftig Apokriewe nostalgies of vasgevang in die verlede nie. Inteendeel — dit klink soos iemand wat steeds nuuskierig is oor die wêreld en oor homself.
“Ek is eindeloos gefassineer deur die moontlikhede wat ’n meer musikale benadering tot die lewe inhou,” sê hy. “Ek weet steeds betreklik min, voel ek, maar volumes meer as vyf jaar gelede.”
Die titel Apokriewe dra groot betekenis. Tradisioneel verwys dit na geskrifte wat buite die amptelike kanon val — nie noodwendig vals nie, maar bloot nie deel van die hoofstroom nie. Vir Sandilands beskryf dit presies sy benadering tot musiekmaak.
“Dit wat nie in die hoofstroomweergawe van die werklikheid val nie, maar nie noodwendig vals is nie. ’n Ander blik, dan.”
Daardie “ander blik” is oral op die album hoorbaar. In ’n Afrikaanse musieklandskap wat hy beskryf as “deurspek met infantiele prul en vermaaklikheid”, kies Sandilands doelbewus om stadiger, dieper en meer ondersoekend te werk. Hy stel geen belang daarin om bloot aan markvereistes of radiokodes te voldoen nie.
“Daai ding van ‘maar dis wat die mark wil hê’ is ’n uiters impotente braakland,” sê hy reguit. “Volgende seisoen groei niks daar nie.”
Dis ’n standpunt wat waarskynlik sommige luisteraars gaan uitdaag, maar Sandilands probeer nie konflik skep bloot ter wille van rebellie nie. Hy beskryf homself nie as ’n aktivis of ’n punk nie. Wat hom dryf, is eerlikheid — teenoor homself én teenoor sy luisteraars.
Hy verwys na die legendariese Roger Waters, wat volgens hom eens gesê het dat dit die kunstenaar se plig is om “die forensiese bewyse” agter te laat dat ons wel hier was en wel opgelet het.
Vir Sandilands is Vyftig Apokriewe daardie bewys.

“Ek is oukei daarmee om saam met my luisteraars te groei, en ’n album is ’n meer omvattende wyse om dit te doen.”
Hoewel vollengte-albums lankal nie meer die norm in die digitale era is nie, het hy nooit getwyfel dat hierdie projek ’n album móés wees nie. Toe vervaardiger Theo Crous hom eenvoudig voorstel om net weer ’n album te maak, het die antwoord amper vanself gekom.
“Party mense gaan klim ’n berg of koop ’n fênsie ryding,” lag hy. “Ek het ’n album gaan maak.”
Tog was die proses allesbehalwe gemaklik. Sandilands glo nie ware skepping gebeur sonder spanning, onsekerheid of beperkinge nie. Inteendeel, hy erken dat hy soms doelbewus dinge moeiliker maak vir homself om dieper te kan delf.
“Ek het nog nooit aan iets van waarde deelgeneem waar daar nie twyfel, sweet en onmoontlike uitdagings was nie.”
Daardie ingesteldheid het gemaak dat sekere liedjies nooit die finale album gehaal het nie. Nie omdat hulle swak was nie, maar omdat hulle volgens hom “te doodgewoon” gevoel het — te bewus van populêre neigings of radiovriendelike formules.
Hy beskryf sy kreatiewe proses amper as iets mistiek: asof ’n liedjie uiteindelik self begin besluit hoe dit wil klink.
“As ek met ’n lekker idee besig is, is dit amper asof die gediertetjie lewe kry,” vertel hy. “Dan bepaal die liedjie self watter instrumente dit wil hoor, hoe lank of kort dit wil wees, en wat dit vir ontbyt wil eet.”
Hierdie oop benadering het ook sy werk in die ateljee beïnvloed. Hoewel hy met “guide tracks” werk, bring hy selde ’n liedjie volledig afgehandel studio toe. Hy verkies om ruimte te laat vir samewerking en spontane ontdekking — veral saam met musikante wat volgens hom “ligjare meer ervaring” as hy self het.
Sy kreatiewe verhouding met Theo Crous speel hierin ’n groot rol. Die twee stem nie altyd saam nie, en juis daarom werk dit.
“Dis ’n uiters gesonde verstandhouding,” sê hy. “Ek meen dit bring oorweging en balans na vore.”
Een van die mees opvallende voorbeelde van spontaneïteit op die album is die snit Faustiaanse Brekkie. Die liedjie het letterlik om vieruur die oggend ontstaan en is grotendeels as ’n rou kombuisopname opgeneem.
“Ons het regtig probeer om dit in die ateljee oor te doen, maar kon net nie dieselfde dinamiek dupliseer nie,” vertel hy. “Daai rou guide track het toe self gesorg dat dit op die album beland.”
Die liedjie dra volgens hom ’n melancholie, maar terselfdertyd ook ’n gevoel van vrede en tevredenheid — ’n tema wat subtiel deur die hele album vloei.
Tussen die introspeksie en poëtiese spel met taal, skram Sandilands ook nie weg van groter sosiale en politieke vrae nie. Liedjies soos Lonely Boer en Grondonteiening spreek direk tot die wêreld waarin Suid-Afrikaners hulself tans bevind.
Vir hom is dit onafskeidbaar van kuns.
“Ek sou werklik geen ander rede hê om te doen wat ek doen nie,” sê hy oor die belangrikheid van eerlike kommentaar op die tydsgees.
Hy wonder selfs hardop waarom soveel kunstenaars volgens hom geen kritiese interaksie met hul milieu toon nie.
“Moontlik verkeer ons nou permanent in hierdie baby-brannaswaas,” sê hy droogweg. “Count me out.”
Ten spyte van die gewigtigheid van baie temas op die album, bly daar egter deurgaans ’n warmte en menslikheid in Sandilands se benadering. Hy probeer nie antwoorde voorsien nie; eerder erken hy die kompleksiteit van die lewe en nooi luisteraars om saam daarmee te sit.
Miskien is dit waarom Vyftig Apokriewe uiteindelik minder voel soos ’n verklaring en meer soos ’n gesprek.
Dis die werk van iemand wat nie bang is om vrae te vra nie. Iemand wat gemaklik geraak het daarmee om buite die kanon te leef. Iemand wat weet dat musiek nie noodwendig die medisyne is nie — soos PG du Plessis glo eens vir hom gesê het — maar dalk eerder die diagnose.
En dalk is dit presies wat hierdie album so relevant maak.
“Hopelik is dit net ’n tikkie bevestiging dat ons wel saam hier is,” sê Sandilands. “Hopelik ’n saamneurie of ’n voetjie wat die ritme tik. Moontlik selfs ’n gedagte net voor jy jou oë toemaak.
“Dit gaan alles oukei wees.”