Afrikaanse Musieknuus

Liefde by die Dam vier 10 jaar met ’n wêreldklas Super Mega Bonanza

FOTO: Wayde Flowerday Photography

Die ikoniese Afrikaanse musiekfees Liefde by die Dam het op Saterdag 18 April sy 10de verjaardag in styl gevier met ’n onvergeetlike Super Mega Bonanza by Emmarentia Dam. Met ’n skare van sowat 15 000 feesgangers was dit ’n dag gevul met energie, saamhorigheid en uitstaande musiek wat dié mylpaal behoorlik beklemtoon het.

Al het die dag met bewolkte weer begin, het die son later deurgebreek en die perfekte atmosfeer geskep vir ’n fees van hierdie kaliber. Musiekliefhebbers is bederf met ’n indrukwekkende reeks optredes van topkunstenaars soos Mango Groove, Fokofpolisiekar, Die Heuwels Fantasties, Will Linley, Appel, Early B, Jack Parow, Robbie Wessels, aKING, Barto, Zoé en Twee.

Die fees het ook verras met ’n reeks geheime kunstenaars, insluitend Loufi, Riaan Benadé, Tasché en Danny Smoke, wat ekstra opwinding aan die dag verleen het. As kersie op die koek het Kurt Darren die skare verras met ’n spesiale verskyning vanaf ’n unieke dek-opstelling.

Volgens Pierre Greeff, hooforganiseerder en voorsanger van Die Heuwels Fantasties, was hierdie viering een vir die geskiedenisboeke. Hy beskryf dit as die beste Liefde by die Dam nóg en beklemtoon die rol van ’n wêreldklas produksiespan, lojale borge en die onmisbare ondersteuning van feesgangers oor die afgelope dekade.

Claire Johnston van Mango Groove het die ervaring as besonder spesiaal beskryf. Sy het die positiewe energie, vriendelike atmosfeer en gladde verloop van die dag geloof, en bygevoeg dat dit ’n eer was om deel te wees van so ’n betekenisvolle viering.

Met die sukses van hierdie 10de verjaarsdag viering, is dit duidelik dat Liefde by die Dam steeds groei van krag tot krag. Feesgangers kan reeds uitsien na die volgende byeenkoms wat in Augustus weer by Emmarentia Dam plaasvind, asook Liefde by Meerendal wat in November in die Kaap aangebied word.

Met die ondersteuning van vennote soos Flying Fish, WeBuyCars, Lift en kykNET, het hierdie wêreldklas fees weer bewys waarom dit een van Suid-Afrika se mees geliefde musiekervarings is.

Exit mobile version