Site icon Afrikaanse Musieknuus

Van Der Aven, Spoegwolf verenig vir kragtige nuwe enkelsnit ‘My Huis’

FOTO: Verskaf

Op 8 Augustus 2025 skryf twee van Suid-Afrika se mees geliefde musiekgroepe ’n nuwe hoofstuk in hul loopbane. Van Der Aven stel hul splinternuwe enkelsnit “My Huis” vry – en vir die eerste keer ooit het hulle die proses van opneem en vrystel in noue samewerking met ander kunstenaars aangepak. Die keuse vir ’n eerste kolaborasie was natuurlik geen klein saak nie – hulle span kragte saam met niemand minder as Spoegwolf, die grootste rockgroep in die land.

Volgens Roelof van der Merwe, hoofsanger en liedjieskrywer van Van Der Aven, het die idee vir die lied natuurlik ontstaan ná ’n gesamentlike toer in 2024.

“Ons het saam met die Wolwe deur Ierland, Engeland en Nederland getoer, en daar het ’n kameraadskap ontstaan. Dit was vir ons ’n onvergeetlike ervaring. Die logiese volgende stap was om saam musiek te maak,” verduidelik hy.

Die kreatiewe proses vir “My Huis” het in 2025 uiteindelik momentum gekry toe albei groepe gelyktydig in Sunset Studios onder leiding van Jurgen von Wechmar kon inskuif. Die opnames was ’n eerste vir Van Der Aven, wat nog nooit vantevore saam met ander musikante aan ’n lied gewerk het nie. Selfs vir Spoegwolf was dit ’n vars ervaring – met die doel dat elke lid van beide groepe ’n hoorbare bydrae tot die lied sou lewer.

Vir Danie du Toit van Spoegwolf was die projek besonder persoonlik: “Dit was die grootste eer om te werk met Van Der Aven. Hulle was, en is, my en my vrou se gunsteling SA-band – hulle het selfs op ons troue gespeel! Ek weet nie van drie muso’s wat beter saam musiek maak nie. Om hul talent van naby te beleef in die skryf en opneem van hierdie song, was ’n groot droom. Ons hoop om nog baie sulke geleenthede saam te hê.”

Met “My Huis” gee Van Der Aven en Spoegwolf aan luisteraars ’n lied wat nie net musikale chemie weerspieël nie, maar ook die vriendskap en respek tussen twee groepe wat mekaar se werk diep waardeer. Dit is meer as net ’n samewerking – dit is ’n viering van kreatiewe eenheid.

Exit mobile version