Site icon Afrikaanse Musieknuus

Wikus Botma stel nuwe enkelsnit ‘Kwaai’ bekend

FOTO: Verskaf

Wikus Botma, die talentvolle sanger wat reeds groot opslae gemaak het met treffers soos “Brandewyn Lippe” en “My Nannas”, is terug met ’n nuwe enkelsnit wat beslis in aanhangers se harte gaan vassteek – “Kwaai”.

Die titel is geïnspireer deur die gewilde Afrikaanse sê-ding “Ek like jou kwaai”. In dié liedjie vertel Wikus die storie van twee mense wat mekaar ontmoet en vinnig besef hoeveel hulle mekaar waardeer – net soos hulle is. Selfs wanneer die lewe sy uitdagings bring en daar al “bietjie water in die see geloop het,” bly die liefde en waardering net so sterk soos op die eerste dag.

Wat die enkelsnit ekstra spesiaal maak, is dat dit gebaseer is op die ware verhaal van hoe Wikus sy vrou ontmoet het. Volgens hom is “Ek like jou kwaai” nie net iets wat jy vir ’n geliefde kan sê nie, maar ook die manier waarop ons Afrikaners beskryf wanneer ons iets regtig geniet – of dit nou ’n sappige braaivleisie is, of die droom-bakkie waarna jy lank al kyk.

Die liedjie is saam geskryf met Don Kelly en Marc Brendon, twee ervare liedjieskrywers wat reeds hul stempel op die musiekbedryf afgedruk het. Met Werner Beukes aan die stuur as vervaardiger, beloof “Kwaai” ’n energieke en dansbare treffer te wees wat meer as een keer gespeel gaan word – en waarskynlik heelparty draaie op die dansvloer sal inspireer.

Met hierdie nuwe enkelsnit bevestig Wikus Botma weer eens hoekom hy een van die vars, opwindende stemme in Afrikaanse musiek is. “Kwaai” is nie net ’n liedjie om na te luister nie – dit is ’n gevoel, ’n glimlag en ’n herinnering dat ons mekaar steeds “kwaai” kan like, maak nie saak wat nie.

Exit mobile version