Site icon Afrikaanse Musieknuus

Ná sewe jaar is Pieter Koen terug – met nuwe musiek!

FOTO: Verskaf

Pieter Koen is terug op die Afrikaanse musiektoneel – en hierdie keer met ’n verrassende nuwe enkelsnit wat sekerlik harte gaan steel én ou herinneringe gaan wakker maak.

Die gewilde sanger, wat reeds Suid-Afrikaners vermaak het met groot treffers soos “3 Susters”, “Skud Jou Biscuit” en “Boobs Boude Bene”, keer ná sewe jaar terug met “Stoute Ogies”. Hierdie splinternuwe enkelsnit is egter meer as net nog ’n lied – dit is ’n huldeblyk aan ’n legendariese vriend en kunstenaar, Fredi Nest.

“Stoute Ogies” is ’n vars weergawe van Fredi se bekende treffer “Toe Maak Jy Ogies Vir My”, en Pieter kon nie ’n beter manier kies om sy vriend se nalatenskap te eer nie.

“Vir my is dit ’n voorreg om op hierdie manier hulde te bring aan ’n wonderlike vriend en mens, ’n uitstekende skrywer en kunstenaar wat ons vir soveel jare deur sy musiek en lirieke vermaak het,” vertel Pieter.

“Ek sou graag in ons tyd saam met hom ’n liedjie wou skryf en opneem, maar sy tyd op aarde was ongelukkig te kort. Met ’n vars aanslag op die versies en melodieë, tesame met die bekende koor, is dit die ideale manier om hulde te bring, ’n nostalgiese reis te geniet én ’n nuwe generasie ondersteuners te ontgin.”

Saam met liedjieskrywer Emil Paul het Pieter die klassieke lied opnuut laat leef met moderne lirieke en ’n nuwe klank, sonder om die sjarme van die oorspronklike te verloor. Vir oud en jonk wag daar dus ’n lied wat jou opnuut laat glimlag – én saamsing, want die wysie is so bekend soos ooit.

Met hierdie comeback bevestig Pieter Koen dat hy steeds weet hoe om ’n treffer te skep. En soos altyd, beloof hy musiek wat die dansvloere gaan vul en sy luisteraars met ’n mengsel van nostalgie en nuwe energie gaan verras.

Exit mobile version