Venter, wat vroeër vanjaar groot opslae gemaak het toe hy as wenner van die Afrikaans Oppi Platteland-fees weggestap het, is terug met nuwe musiek wat beloof om sy stempel nóg dieper in die Afrikaanse musiekbedryf af te druk.
Kort ná sy oorwinning het hy sy eerste enkelsnit, “Deur Die Winters”, vrygestel – die Theuns Jordaan-liedjie waarmee hy die titel losgesing het. Nou, met sy tweede enkelsnit, wys Venter dat hy nie net ’n sanger nie, maar ook ’n begaafde liedjieskrywer is.
LEES OOK: Afrikaans Oppi Platteland se Nuwe Talent-wenner, Venter, reik eerste enkelsnit uit
Sy nuutste treffer, “Die Hart van My”, is beskikbaar vanaf 22 Augustus 2025, saam met ’n splinternuwe musiekvideo. Dié liedjie is heeltemal deur Venter self geskryf en vang rou eerlikheid en opregte emosie vas. Soos hy sing in een van die treffendste verse:
“Jy is vroegoggend koffie, net so dou voor dag,
my wolkombers wat warm hou deur die nag.”
Die produksie is behartig deur Hugo Ludik van Muse Studios, wat aan die snit ’n vars en dinamiese klank gegee het. Hoewel dit ’n diep en hartroerende lied is, bring dit ook ’n ritme wat jou na die dansvloer toe trek – ’n unieke kombinasie van gevoel en beweging.
Met “Die Hart van My” bewys Venter dat hy ’n kunstenaar is wat nie net sy stem gebruik om stories te vertel nie, maar sy pen ook. Hy skryf vanuit die hart, en dit resoneer met elke noot.
Hou dus jou oë oop – Venter is hier om te bly, en “Die Hart van My” gaan luisteraars vanaf 22 Augustus 2025 aangenaam verras.

