Site icon Afrikaanse Musieknuus

Francois Jacobs bring plaas-ritme en country-vibes met nuwe enkelsnit

FOTO: Verskaf

Francois Jacobs, een van Suid-Afrika se mees geliefde Afrikaanse sangers, is terug met sy sesde enkelsnit – en hierdie keer neem hy sy luisteraars reguit plaas toe. Met ’n aansteeklike mengsel van Afrikaanse pop en country, beloof “Spel dit Uit” om dansvloere regoor die land aan die brand te steek. Die liedjie is vervaardig deur Ferdinand Skead van Skead Records, wat sy bekende produksie-meesterhand aan die projek gesit het.

Die storielyn van “Spel dit Uit” draai om ’n regte plaasmeisie in haar vellies wat met haar moves en liefde vir country-musiek jou hart wen. Al sê jou kop jy moet uitkyk – soos die liriek lui: “jou kop sê hou verby” – is jou hart reeds verlore. “Wat is dan mooier as ’n regte plaasmeisie?” vra Francois met ’n glimlag.

Volgens Francois is “Spel dit Uit” ’n droomsnit wat lank in wording was. “Ek wou nog altyd ’n country-liedjie uitbring, maar het gewag vir die regte oomblik. Toe ek hierdie liedjie in die ateljee hoor, het ek geweet – dít is die een. Ferdinand se talent en die energie in die produksie het my net omver geblaas. Dis ’n lied wat jou sommer stof wil laat skop op ’n plaasgrondpad!”

Hy beskryf die liedjie as ’n perfekte pas vir sy styl: vol ritme, ligte lirieke en ’n goeie gevoel wat jou laat wil dans, braai of die langpad vat. “Ek hoop hierdie lied klim die Afrikaanse trefferparades – dit sal vir my ongelooflik wees om te sien hoe mense landwyd hierop dans,” sê hy.

Die musiekvideo, verfilm deur Stephan van Huyssteen en Franzel van Agter die Mic by Que Sera Venue in Pretoria-Oos, vang presies die gevoel van die liedjie vas. Met pragtige natuur-tonele, ’n knus kaggelvuur en energieke dans op ’n stofpad, straal die video warmte en lewenslus uit. Die dansers, Deolandre en JP, bring ekstra vonkel en energie. “Ons het só lekker gelag tydens die verfilming – dit was net pure plesier,” vertel Francois.

Kyk die musiekvideo hier:

Met 17 jaar se ervaring in die musiekbedryf is Francois geen vreemdeling vir die verhoog nie. Sy sangtalent het al op driejarige ouderdom uitgekom, en sedertdien is musiek ’n kern van sy lewe en familie. Buiten sy sangloopbaan tree hy ook gereeld as MC op en is hy betrokke by verskeie geleenthede en Expo’s in Pretoria.

Francois droom daarvan om binnekort ook buite Suid-Afrika op te tree – veral in Namibië – en beplan ’n teaterproduksie met ’n volledige band. Tans is hy vier keer per week op verskillende verhoë te sien, werk aan nuwe musiek, en beplan ’n Wes-Kaap toer. “Ek is stylvol, kragtig en sing altyd met baie emosie. Ek wil hê mense moet dans, kuier en ’n goeie tyd hê. En dalk… dalk eendag sing ek hierdie liedjie op die Afrikaans is Groot-verhoog.”

Met “Spel dit Uit” lewer Francois Jacobs ’n lied wat nie net jou voete laat beweeg nie, maar ook jou hart laat glimlag – ’n ware viering van plaaslewe, liefde en Afrikaanse musiek.

Exit mobile version