Site icon Afrikaanse Musieknuus

Jack Parow laat die ‘beats’ klap vir DDP

FOTO: Verskaf

Sonder enige groot aanloop of waarskuwing, het die legendariese Zef-koning Jack Parow op Vrydag, 8 Augustus, sy splinternuwe rap-anthem, “Dis DDP”, die wêreld ingestuur. Dié song is ’n musikale uppercut vol trots, geskryf vir niemand anders nie as Suid-Afrika se eie UFC-middelgewigkampioen, Dricus ‘Stillknocks’ du Plessis.

Maar Parow se ondersteuning stop nie by die musiek nie. Net drie dae later, 11 Augustus, klim hy self op ’n vliegtuig na Chicago om in lewende lywe sy vriend en landsheld aan te moedig. Daar sal hy sy stem – en seker ook ’n paar hard-hitting lyrics – in die gehoor gooi wanneer Dricus Sondag, 17 Augustus, sy titel verdedig teen die gevaarlike Khamzat Chimaev.

Die song, wat Parow saam met sy vriend en musikale meesterbrein Loki Rothman geskryf het, is alles behalwe subtiel. Dis hard, dis vet, dis ’n war cry vir die kampioen. “Ek is so opgewonde oor hierdie fight en om na my eerste UFC kragmeting te gaan saam met ons champ, Dricus du Plessis, wat sy titel gaan verdedig. Dit gaan ’n massiewe fight wees. Ek het so excited geraak dat ek en Loki Rothman besluit het om ’n song te maak!” vertel Parow met sy kenmerkende energie.

“Dis DDP” is nie net ’n tune vir fight night nie – dis ’n viering van ’n ware Suid-Afrikaanse suksesverhaal. Dit kombineer Parow se unieke rapstyl met ’n opwindende, aansteeklike beat wat jou lus maak om jou eie walkout te doen… al is dit net tot by die kombuis.

Vir Dricus is hierdie song meer as net ’n lekker beat – dit’s ’n bewys dat hy sy land se harte gewen het. En as Parow se track enigiets te sê het, is Suid-Afrika reg agter hom wanneer hy die oktagon binnegaan.

Exit mobile version