As daar een ding is wat Brendan Peyper keer op keer bewys, is dit dat hy weet hoe om ’n liedjie te skryf wat jou vasgryp – of dit nou op die dansvloer is of in jou hart. Sy jongste enkelsnit, “Rooi Vlag”, wat pas vrygestel en beloof om weer daardie tipiese Brendan-vonk te bring, maar met ’n verrassende rock and roll-randjie.
Rooi vlag? Ja, jy het reg gelees. Maar moenie dink dis ’n waarskuwing nie – of dalk ís dit? Hierdie keer sing Brendan oor daardie een meisie wat jy weet gaan moeilikheid wees, maar wat jy tog nie kan weerstaan nie. Haar houding, haar vrygees, haar rooi vlae – dit alles trek hom aan soos ’n mot na ’n vlam. Dis ’n storie van aantrekking ten spyte van die gevaartekens… en dit klink ongelooflik goed.
Die snit is deur Brendan self geskryf, met Murray Lubbe agter die knoppies as vervaardiger – dieselfde span wat al verskeie van Brendan se vorige treffers saamgesmee het. Hierdie keer bring hulle ’n kragtige kombinasie van moderne country, rock-elemente en daardie bekende Peyper-charme.
Saam met die liedjie word daar ook ’n adrenalien-gelaaide musiekvideo vrygestel wat letterlik die stof laat staan. Can-ams, MX bikes, Jeeps, Cruisers en ’n hele paar visuele “rooi vlae” sorg vir ’n aksiebelaaide ervaring. Brendan, met sy kitaar in die hand en ’n rebelsheid in sy oë, staan tussen dit alles – presies waar hy hoort.
Maar hou jou oë oop, want daar’s ook ’n groen vlag – dalk ’n teken van hoop… of van nog moeilikheid?
Wat is jou rooi vlag? Maak seker jy luister en kyk die video wat jou hart vinniger gaan laat klop.

