Site icon Afrikaanse Musieknuus

Zaan Sonnekus ‘skree weer’ op sy eie

FOTO: Verskaf

Die geliefde sanger en liedjieskrywer Zaan Sonnekus is terug – sterker, eerliker en meer vasberade as ooit. Op 11 Julie 2025 maak hy ’n kragtige terugkeer met sy nuwe enkelsnit “Skree”, ’n rou, intense en persoonlike liedjie wat direk uit die hart kom.

Ná ’n moeilike tyd waarin Zaan se verhouding met sy vorige platemaatskappy tot ’n einde gekom het – en sy hele musiekkatalogus sonder waarskuwing van alle digitale platforms verwyder is – het hy besluit om sy pyn in klank te omskep. “Die gevoel van daardie verlies was soos toe ek my ma verloor het,” sê Zaan. Maar in plaas van stilbly, het hy gekies om terug te veg – met sy stem.

“Skree” is deur Zaan self geskryf en vervaardig in sy eie ateljee, Son Studios, saam met die talentvolle Kyle Botha as mede-vervaardiger. Die snit is ’n simboliese en emosionele ontlading van pyn, verwerking en uiteindelike bevryding – ’n innerlike skreeu wat nie net gehoor wil word nie, maar móét word.

Voor hierdie enkelsnit het Zaan reeds op 13 Junie sy aanhangers verras met ’n spesiale vrystelling van “Ten Minste Vir My (Zaan’s Version)”, ’n nuwe weergawe van een van sy gewildste treffers. Hierdie weergawe het gevolg ná suksesvolle onderhandelinge met sy vorige platemaatskappy, wat daartoe gelei het dat ál sy oorspronklike musiek weer beskikbaar gestel is op alle digitale platforms.

Maar met “Skree” begin ’n heeltemal nuwe hoofstuk in Zaan se loopbaan – een waar hy as onafhanklike kunstenaar volkome kreatiewe beheer het. “Dis nou net ek, my stories, en die waarheid,” sê hy. “En ek’s gereed om te skree.”

“Skree” is vanaf 11 Julie 2025 beskikbaar op alle digitale platforms – ’n liedjie wat nie net Zaan se hergeboorte as kunstenaar vier nie, maar ook ’n aankondiging is: hy’s terug, en hy’s nie meer stil nie.

Exit mobile version