In die stil ure van die oggend, toe die wêreld sy asem ophou en net die dowwe glans van ’n kroegliggie oorbly, het iets besonders gebeur. Twee sanger-liedjieskrywers – die charismatiese Brandon Miles en die sielvolle Hendré Baard – het hande gevat om ’n liedjie te skryf wat die hartklop van ware, eerlike liefde in Afrikaans vasvang. Die resultaat? “Liefde Soos Die” – ’n musiekstuk wat reeds besig is om diep spore in luisteraars se harte te trap.
Brandon vertel hoe die inspirasie onverwags gekom het, toe hy en Hendré eendag saam in Plaasjapie gesit het. Dis daar waar hulle besluit het: dit’s tyd om ’n liedjie te skryf wat die gevoel van opregte Afrikaanse liefde vier. Teen drie-uur die oggend was die eerste woorde en akkoorde daar – en só is “Liefde Soos Die” gebore.
Die openingslyn – “Sal jy vir my luister? As ek so na jou kyk” – dra ’n persoonlike lading vir Brandon, geïnspireer deur ’n oomblik met ’n voormalige liefde. Só begin die liedjie nie net met klank nie, maar met eerlikheid en rou emosie.
Met lirieke soos “’n Liefde soos die kan niemand koop nie” en “Wees my eerste dans… wees my laaste dans”, bring die liedjie nie net romanse nie, maar ’n gevoel van ewigdurende verbintenis. Hierdie is nie liefde vir ’n oomblik nie – dis liefde wat kies om te bly, wat kies om weer en weer te dans.
Brandon beskryf die kreatiewe proses as natuurlik en organies. Hul stemme het onverwags perfek saamgesmelt, en saam het hulle die lirieke en melodie gevorm – altyd met gevoel as rigtingwyser. Die klank van die lied is dromerig, sag en intens – en die kitaarwerk deur Fred van Heuwels Fantasties, gespeel op ’n Gibson Hallow Body, gee aan die liedjie ’n warm, egte tekstuur.
Die terugvoer was vinnig en oorweldigend. Selfs vroeë “sneak peek” videos het reeds viral gegaan, met aanhangers wat smeek om die amptelike vrystelling. Tog meen Brandon dat die dieper betekenis eers met tyd insink. “Hulle hoor die fairytale,” sê hy, “maar die hart van die lied is groter as net romanse.”
Lirieke soos “Jy het altyd die antwoord as ek soek na die vraag” eer die stille krag van ’n geliefde, terwyl “Moet my tog nie gebruik nie” die kwesbaarheid en vrese binne liefde uitlig. Dis presies hierdie balans tussen hoop en eerlikheid wat die lied só uniek maak.
Die goeie nuus? Hierdie is slegs die begin van Hendré en Brandon se musikale reis saam. Nog ’n liefdeslied is reeds in die pyplyn, en individueel werk Brandon aan ’n sokkietreffer én ’n duet met ’n vroulike kunstenaar. Hendré beplan ook om later vanjaar twee nuwe enkelsnitte vry te stel.
Kyk die musiekvideo hier:
“Liefde Soos Die” is meer as ’n lied – dis ’n ervaring, ’n belofte, ’n herinnering aan die soort liefde wat nie uit die mode gaan nie. Brandon en Hendré se missie is eenvoudig: om mense weer te laat glo in opregte, tydlose liefde – in ons eie taal.
Soos Brandon dit stel: “Dis ’n fee verhaal in ons eie taal.” En dít is dalk presies wat ons wêreld op die oomblik nodig het.

