Site icon Afrikaanse Musieknuus

Tony Knight stel diep enkelsnit bekend – ’n liedjie van herstel, liefde, hoop

FOTO: Verskaf

Ná dekades in die musiekbedryf stel Tony Knight – ’n bekende en gerespekteerde naam in Afrikaanse musiek – sy mees persoonlike en emosiebelaaide enkelsnit tot dusver vry: “Soos Net Jy Kan Verstaan”. Hierdie liedjie is nie net ’n nuwe hoofstuk in sy loopbaan nie, maar ook ’n refleksie van ’n buitengewone lewensreis gevul met liefde, verlies en versoening.

Tony, gebore as Abraham Johannes Volschenk en grootgeword in Vereeniging, het reeds in 1982 sy eerste treë in die musiekwêreld gegee. Met sy unieke stem, geïnspireer deur legendes soos Elvis Presley, Lance James en Charlie Pride, het hy ’n lojale aanhang opgebou en talle suksesvolle samewerkings gehad.

Maar “Soos Net Jy Kan Verstaan” is anders. Hierdie liedjie, oorspronklik geskryf in 2000, het nuwe lewe gekry in 2024 – ná ’n baie persoonlike en hartroerende gebeurtenis in Tony se lewe. Na die tragiese verlies van sy seun Jacques vroeër vanjaar, is Tony en sy vrou ná 37 jaar van egskeiding herenig. Die lied verwoord sy diep verlange en liefde vir die een mens wat hom werklik verstaan – ’n tema wat universeel resoneer.

Die lirieke van die lied, geskryf deur Tony self, dra ’n rou eerlikheid en emosie wat versterk word deur die produksie van Andre Hartman en ’n melodie van Hennie de Necker. Met ’n Afrikaanse country-klank en ’n tikkie ligte pop, is “Soos Net Jy Kan Verstaan” ’n sielvolle ballade wat luisteraars diep sal raak.

“Baie mense gaan hulleself in hierdie liedjie herken,” sê Tony. “Ons almal het iemand wat ons mis, iemand wat ons net op ’n spesiale manier kan verstaan. Hierdie lied is vir hulle.”

Tony se musiekloopbaan het deur die jare verskeie hoogtepunte beleef, insluitend ’n rekordbrekende 27 uur lange sangvertoning in 1984, ’n uitverkoopte Stadskouburg-vertoning in 2006 en meer as 20 toekennings tydens Lance James Country Feeste. Tog beskou hy hierdie enkelsnit as een van sy mees betekenisvolle vrystellings tot dusver.

Hy is tans besig met die skryf van sy biografie en beplan om in 2025 sy musiek met ’n nuwe energie op verskeie platforms aan te bied – van musiekvideo’s tot teaterproduksies.

“Soos Net Jy Kan Verstaan” is nou beskikbaar op alle digitale platforms.

Kyk die musiekvideo hier:

Met hierdie liedjie bewys Tony Knight dat ware musiek nie net vermaak nie, maar ook genees, troos en hoop bring.

Exit mobile version