Daar is oomblikke wat jou nooit verlaat nie – oomblikke wat vasbrand in jou geheue soos sonlig op ’n oop veld. Vir die gewilde Afrikaanse musiekgroep Rooksein was een so ’n oomblik die inspirasie agter hul nuutste enkelsnit, “Sonsak In Die Vrystaat”.
Terwyl hulle ná ’n optrede terugry uit die hart van die Vrystaat, het hulle die asem weggeslaan met die toneel voor hulle – ’n sonsak wat die landskap in ’n warm waas van goud en oranje gehul het. Daardie eenvoud, daardie egtheid van die oomblik, het iets binne hulle aangegryp – en die lied was gebore.
Met lirieke wat die Vrystaat se uitgestrekte vlaktes, koringlande en grondpaaie oproep, is “Sonsak In Die Vrystaat” veel meer as net ’n liefdeslied. Dit is ’n huldeblyk aan die platteland, aan stil drome, en aan daardie een spesiale persoon wat jou wêreld mooi maak. “Dis vir daai spesiale persoon wat jou wêreld stil maak, en wie jou wêreld mooi maak – net soos ’n sonsak oor die vlaktes van die Vrystaat,” sê Rooksein.
LEES OOK: Rooksein roer hartsnare met nuwe snit!
Die lied volg in die voetspore van Rooksein se vorige treffers soos “Kyk Na My Hart” en “Damlelielief”, en dra weer daardie kenmerkende mengsel van sielvolle melodieë en opregte storievertelling. Dit is musiek wat nie net gehoor word nie, maar gevoel word – musiek wat in die hart kom sit.
“Musiek is ons manier om iets te sê sodat ander mense dit hoor,” sê die groep. “Ons is maar net drie jongmense wat lief is vir musiek en bevoorreg genoeg is om te kan doen waaroor ons mal is.”
Kyk die liriekvideo hier:
Met ’n lojale aanhang regoor Suid-Afrika en ’n vermoë om emosie vas te vang in klank, bevestig “Sonsak In Die Vrystaat” Rooksein se plek as een van die mees opregte en talentvolle groepe in die Afrikaanse musieklandskap.
Of jy nou ’n Vrystater is of net iemand wat soek na iets eg en mooi – hierdie lied gaan jou tref, net waar dit saak maak.

