Wanneer twee van Suid-Afrika se mees ikoniese rockers en entertainers – Francois van Coke en Robbie Wessels – saamspan, weet jy daar’s groot dinge op pad. Wat aanvanklik soos ’n regte boksgeveg-aankondiging gelyk het op sosiale media, het op 27 Junie ontaard in iets nog meer opwindend: ’n splinternuwe rugbylied en musiekvideo met die naam “Bokbefok” – wat reeds as die “grootste rugbylied van alle tye” beskryf word.
“Die beste rugby song sedert ‘Hie’ kommie Bokke’,” sê Francois van Coke self – en dis nie sommer ’n ligte stelling nie.
Die vonk het geslaan toe Liefde by die Dam vir Francois en Robbie genooi het om Robbie se gewilde treffer “Leeuloop” saam op te voer. Francois, ’n groot aanhanger van die lied, het dadelik ingespring – en dis toe dat die idee vir ’n nuwe samewerking ontstaan.
“Ons is albei groot rugby fans, so dit het natuurlik in daardie rigting begin beweeg,” vertel Francois.
Die titel, “Bokbefok”, het uit Robbie se pen gekom – ’n naam wat dadelik vir Francois sin gemaak het, gegewe sy bande met Fokofpolisiekar. Maar hy het eers seker gemaak Robbie verstaan waarin hy hom begewe.
“Ek het vir hom gesê, ek’s reg met ‘Bokbefok’, maar is jy gereed?” Robbie se antwoord? “Ek is gereed.”
En reg was hy! Robbie som dit perfek op: “As jy die lied ‘Hie’ kommie Bokke’ vat en jy maal dit met ‘Die Bloubul’ song en jy maal dit met ‘We are the champions’ dan kom jy nog nie naaaaby aan die Grootste rugbylied van alle tye wat nou hier is nie.”
Met skreeusnaakse lirieke, ’n meelewendheid wat jou reguit op die paviljoen sit, en ’n musiekvideo wat jou laat uitsien na die volgende Bok-wedstryd, is Bokbefok ’n fees vir enige sportliefhebber – en veral vir Bok-ondersteuners.
Kyk die musiekvideo hier:
So trek jou groen en goud aan, sit die volume op 11, en sing saam – want Bokbefok is hier om gees te vang, stories te vertel en die nasie te verenig.

