Afrikaanse Musieknuus

Dassie reik eerste kortspeler ‘Ek Mis’ uit – ’n eerlike blik op grootwordjare, kuier en klank

FOTO: Hendri Viljoen

Suid-Afrika het in 2024 kennis geneem van die jong en talentvolle Dassie toe hy sy debuutenkelsnit “Wyne” uitgereik het. Nou, met sy eerste kortspeler (EP) getiteld “Ek Mis”, bewys Dassie dat hy nie ’n een-treffer-wonder is nie, maar ’n opregte kunstenaar met ’n diepgewortelde liefde vir musiek, stories en mense.

“‘Ek Mis’ is ’n samevatting van my ervarings toe ek die huis verlaat het en die grootmenswêreld betree het. Al voel ek nou soos ’n grootmens, voel ek nog steeds soos ’n kind wat elke dag leer,” verduidelik Dassie. “Daarom het ek besluit om daardie nostalgie vas te vang in ’n liedjie.”

Die EP bevat ses liedjies – waaronder die reeds bekende “Wyne” – en vyf splinternuwe snitte wat Dassie self geskryf het: “Babelaas”, “Gourits”, “Plaashekke”, “Karoo” en die titelsnit “Ek Mis”.

“Al die liedjies behou ’n kuieratmosfeer, maar ek het met verskillende musiekstyle gespeel – van rock en country tot selfs ’n ballade. Dit help my om my voete te vind in die groot musiekbedryf sonder om myself tot een styl te beperk,” sê Dassie.

Die EP neem luisteraars op ’n reis deur Dassie se herinneringe en emosies – van die humoristiese “Babelaas”, tot die diep persoonlike “Ek Mis”, die nostalgiese “Gourits”, die hartslied “Karoo”, en die ontspanne wegbreektema van “Plaashekke”.

“Ek wou ’n atmosfeer skep waar mense saam kan kuier – of jy nou by ’n vuur sit of op pad is Karoo toe. My mikpunt was om iets divers te skep wat steeds eg voel,” sê hy.

Dassie werk saam met bekendes soos Appel (skryfmentorskap), Graaff Produksies (musiekproduksie) en Paulo by Coleske (finale produksie).

“Hierdie span het my gehelp om die beste weergawe van my musiek aan die wêreld te wys. Ek is ongelooflik dankbaar vir hul geloof in my.”

Met groot drome en ’n hart vir mense sê Dassie dat sy grootste wens is om lewendige vertonings te doen en mense saam te bring.

“As jy hoor ek tree iewers op – kom ondersteun ’n kleindorpseun met groot drome. Ek wil wys dis moontlik,” sluit hy af.

Exit mobile version