Site icon Afrikaanse Musieknuus

Francois Boyce bring hoop, geloof en hoop vir Leon Ferreira met ‘Asemrowend’

FOTO: Verskaf

Sommige liedjies doen meer as net om klank te gee aan emosie – hulle dra mense. En Francois Boyce se nuutste enkelsnit, “Asemrowend”, is een van daardie liedjies.

Dié treffende verwerking van Leon Ferreira se oorspronklike gospelsnit het nie net ’n geestelike doel nie, maar ook ’n baie rede: om fondse in te samel vir Ferreira se mediese behandeling ná ’n onlangse diagnose van aggressiewe prostaatkanker.

Francois – bekende sanger, liedjieskrywer, stemkunstenaar en radio-omroeper – het diep emosioneel gereageer toe hy “Asemrowend” die eerste keer gehoor het. “Die woorde het my hart geraak. Dit is hoe ek self God ervaar. En die melodie – jy vergeet dit nie,” vertel hy.

Ná ’n onderhoud op Radio Tygerberg 104 FM saam met Grammy-benoemde vervaardiger Neville D, waarin Ferreira se weergawe van die lied gespeel is, het Boyce en Neville onmiddellik geweet hulle moet iets met die snit doen. Ná Leon se diagnose het die idee gestalte gekry: ’n splinternuwe weergawe, saam met Die Lekker Crew, opgeneem by Digital Forest se ateljee aan die voet van Groot Constantia.

“Leon is ’n mens wat ek ongelooflik respekteer,” sê Francois. “Sy musiek het my beïnvloed om self ’n loopbaan in musiek te volg. Dit is my manier om iets terug te gee – om te help waar ek kan.”

Die “Asemrowend” musiekvideo is eenvoudig, rou en eerlik. Dit fokus op die lirieke en die aanbidding, met Francois, Neville D, Die Lekker Crew én Leon Ferreira self voor die kamera. Volgens Francois wou hulle ’n boodskap uitdra van hoop en vasberadenheid. “God bly asemrowend, maak nie saak wat jy in die oë staar nie.”

Die liedjie en video is nou beskikbaar op YouTube en alle digitale platforms.

Kyk die musiekvideo hier:

Help Leon Ferreira veg teen kanker

Fondse vir Leon Ferreira se mediese behandeling kan bygedra word via BackaBuddy. Of per EFT:

Francois, wat nasionale bekendheid verwerf het tydens die pandemie met sy Hoezit Samelewing-platform, dra nie net vele hoede nie – hy dra sy hart op sy mou. As eggenoot, pa, motiveringspreker, handelsmerkambassadeur én kunstenaar toer hy tans landswyd met produksies soos 5 Vrouens en Ek, Ek, ’n Tent en Oorlog, en Stap in Styl – met nog ’n nuwe vertoning, 5 Koeke & Ek, op pad.

Maar vandag gaan dit oor iets groter as enige verhoog. Met “Asemrowend” wil hy nie net luisteraars aanraak nie – hy wil ’n lewe red.

“Kies om God te aanbid ten spyte van jou omstandighede.”

Francois Boyce
Exit mobile version