Die gewilde Afrikaanse musiekgroep Jan Jan Jan is terug en hulle bring die vuur saam! Met hul splinternuwe enkelsnit “Liefde In ’n Loopdop”, sorg die groep vir ’n somerklankbaan wat gereed is om enige braai, sokkie of kuierdronk partytjie behoorlik aan die gang te sit.
Die lied is ’n viering van eg Suid-Afrikaanse kuierkultuur – liefde, geselskap en natuurlik ’n goeie loopdop in die hand. Dis vrolik, vurig en propvol karakter – presies wat aanhangers van Jan Jan Jan verwag.
Die snit is geskryf en vervaardig deur die bekende Hugo Ludik en Nic Jordaan van Muse Studios – twee name wat lankal hul plek in die Afrikaanse musiekbedryf gevestig het met ’n string radio-treffers agter hulle naam.
“Liefde In ’n Loopdop” bied ’n lekker boeremusiek-ritme, moderne produksie-elemente en Jan Jan Jan se unieke aanslag wat die lied perfek maak vir luidkeelse meezing en ’n dansie onder die sterre. Dit bring nie net nostalgie nie, maar skep ook nuwe herinneringe – dié tipe snit wat jou reguit terugvat na die gesellige oomblikke met vriende en familie.
“Ons wou iets skep wat aanvoel soos daardie een vriend wat altyd die partytjie aan die gang kry – warm kole, vol glase en die beste geselskap,” sê die groep met hul kenmerkende entoesiasme.
Die musiekvideo vir “Liefde In ’n Loopdop” word op 20 Junie 2025 saam met die enkelsnit op YouTube bekendgestel en beloof om die gevoel van die lied visueel vas te vang – vrolik, kleurvol en vol kuier-gees.
Kyk die musiekvideo hier:
Die lied sal op alle digitale musiekplatforms beskikbaar wees – so maak seker jy voeg dit by jou gunsteling-party-speellys. Want soos die groep belowe: “Hierdie ene gaan jou voete laat jeuk en jou glas laat vol bly!”

