Charlize Berg, die geliefde Afrikaanse sangeres bekend vir haar kragtige stem en diep lirieke, is terug – en dié keer verras sy haar aanhangers met ’n splinternuwe klank. Haar jongste enkelsnit, “Brand”, is sopas vrygestel en is dis haar eerste uitstappie in die wêreld van country-pop.
Met “Brand” toets Charlize die waters van hierdie energieke en emosioneel ryk genre, en sy doen dit met flair en passie. “My doel met die kern van “Brand” is om my mede-patriotiese en sterk boeremeisies daar buite wat vurig en trots Suid-Afrikaans is, aan te moedig om daardie vuur van goddelike vroulikheid weer aan te steek,” sê sy. “En om hulle te herinner aan hul eie innerlike krag en die skoonheid en goddelike doel van vroulikheid.”
Maar dis nie net die boodskap wat kragtig is nie – die musiek self is aansteeklik, dansbaar en vol siel. “En dit als saam met ’n country liedjie wat almal lekker op kan dans en mee saam sing!” voeg sy by met entoesiasme.
“Brand” beloof om nie net hartsnare te roer nie, maar ook voete te laat jeuk vir ’n lekker kuier. Dis ’n viering van vrouwees, van Afrikaanse trots en van ’n nuwe kreatiewe hoofstuk vir Charlize.

