As jy al ooit jou hakskeen gestamp op ’n dansvloer met Wentzel se aansteeklike liedjies soos “Juffrou Riekie Louw”, “Meisie Wat Kan Vasdans” of “Help ’n Bietjie”, maak jou gereed—want op 13 Junie word sy splinternuwe enkelsnit, “Flippen Nice”, amptelik vrygestel!
Dié energieke liedjie is propvol gees, glimlagte en daardie gevoel wat jy kry wanneer iemand jou hart klop vinniger laat klop. “Flippen Nice” is ’n viering van daardie eenvoudige, egte bewondering wat ons soms voel wanneer ons iemand spesiaal sien—daardie “wow, jy’s regtig flippen nice”-oomblik.
“Die idee vir die liedjie het ontstaan uit daardie eenvoudige maar spesiale gevoel wat jy kry as jy iemand sien en sommer net weet ‘Wow, jy is flippen nice’. Dis nie ‘n moeilike liedjie om te verstaan nie. Dit is eenvoudig en reguit en sê presies wat jy dink as jy regtig van iemand hou,” sê Wentzel.
Die liedjie is deur Wentzel self geskryf, en in samewerking met die talentvolle Austin Hulme en Tjaart van der Walt vervaardig. Saam bring hulle ’n vars en dansbare klank wat beslis harte gaan vinniger laat klop én voete laat beweeg.
Kyk die musiekvideo hier:
Wentzel hoop dat “Flippen Nice” ’n liedjie sal wees waarin geliefdes hulleself kan raaksien—of jy nou al in ’n verhouding is of pas iemand ontmoet het wat jou wêreld op sy kop keer.
So, maak seker jou speellys is gereed vir dié somerklank vol verliefdheid, glimlagte en lekker dans. Vanaf 13 Junie is dit tyd om weer die dansvloer warm te maak… saam met daai flippen nice persoon in jou lewe!

