Afrikaanse Musieknuus

‘Die Vyftigers’: ’n Rooiwarm vertoning vir ’n eenmalige Afrikaanse viering!

FOTO: Verskaf

2025 is nie sommer nét ’n jaar nie – dis ’n tydlyn vol geskiedenis, hartklop en herinneringe. Dis die jaar waarin Afrikaans haar 100ste amptelike bestaansjaar vier, en vier van die taal se mees unieke stemme hul 50ste lewensjaar betree. In hierdie seldsame samevloei van tyd en talent, word Die Vyftigers gebore – ’n eenmalige, rooiwarm musiekvertoning wat klop soos ’n hartslag deur die eeu van Afrikaans.

Neil Sandilands, Schalk Joubert, Gian Groen en Abel Kraamsaal is nie net kunstenaars nie – hulle is storievertellers, woordsmousers, toonsetters en tydgenote. Vier unieke kreatiewe geeste, elk met vyftig jaar se lewe agter die rug en ’n diep liefde vir Afrikaans in hul hart. Saam bring hulle meer as 200 jaar se kollektiewe lewenservaring na die verhoog – ’n verhoog waar hul verhale, lirieke en melodieë ontvou in eerlike, rou en soms aweregse klanke.

Die vonk het ontstaan tussen die appelbome van Grabouw, tydens Gian Groen se 50ste verjaarsdagpartytjie – ’n spontane jam-sessie wat in pure inspirasie ontaard het. Neil Sandilands het die idee laat posvat: vier vriende, vier verjaarsdae, een taal – ’n once-in-a-lifetime produksie. Binne dae was almal aan boord en Die Vyftigers het vlerke gekry.

Die stem van vier vyftigers

Die Vyftigers is nie net ’n musiekvertoning nie – dis ’n viering van taal, tyd en identiteit. Deur oorspronklike musiek uit elke kunstenaar se repertoire, asook splinternuwe liedjies wat spesiaal vir die produksie geskryf is, word gehore geneem op ’n reis deur persoonlike narratiewe, Afrikaanse geskiedenis en tydlose temas. Elke nota, elke sin, elke stilte – ’n gebed vir Afrikaans, vir kreatiwiteit, vir saamwees.

Sandilands beskryf dit só: “Wat kry jy as jy vier duidelike persoonlikhede op een verhoog sit, wat elk ’n instrument bespeel, ’n ordentlike liriek kan pen en derms het wat brand? Sprankel ’n aweregse Afrikaanse woordeskat, sprinkel ’n titsel selfnegerende humorsin, ’n spatsel witblitz, ’n slurpie Boere Zen en ’n draggie 50 jaar oue hardehout. Daar het jy dit. Die resep vir ’n aand se eersteklas vermaak: ‘Die Vyftigers’.

Met slegs een toer oor ’n paar maande en ’n beperkte hoeveelheid kaartjies, is Die Vyftigers iets wat jy nie wil misloop nie. Van Paternoster tot Pretoria, George tot Potchefstroom – die vyftigers reis die land vol om hierdie eenmalige kultuurprojek te deel met almal wat Afrikaans liefhet.

Hoogtepunte van die toer sluit in:

Kaartjies is beskikbaar via spesifieke skakels vir elke venue – besoek: https://linktr.ee/DieVyftigers vir alle besprekings en bykomende inligting.

Vier lewens. Een taal. ’n Eeu van klank. ’n Aand wat jy nooit sal vergeet nie.
Moenie die Die Vyftigers misloop nie – dis nie net ’n vertoning nie, dis ’n gebeurtenis in ons Afrikaanse geskiedenis.

Exit mobile version