Site icon Afrikaanse Musieknuus

Mari Bosman gee Afrikaans ’n stem met nuwe enkelsnit ‘Roepstem’

FOTO: Verskaf

Dié sangeres bring ’n emosionele huldeblyk aan haar moedertaal in Afrikaans se eeufeesjaar

In die jaar waarin Afrikaans sy 100ste bestaansjaar vier, bring die sangeres en liedjieskrywer Mari Bosman ’n roerende huldeblyk aan haar moedertaal met die vrystelling van haar nuwe enkelsnit, “Roepstem”. Dié lied is ’n persoonlike verklaring van liefde, trots en kulturele erfenis.

“Afrikaans is vir my die mooiste taal ter wêreld,” sê Bosman. “Daar is geen ander taal waarin ’n mens jouself so eerlik kan uitdruk nie. “Roepstem” is my liefdesbrief aan Afrikaans.”

Met lirieke soos “dis my stem, dit is my hartklop wat jy hoor” en “ek sal veg, jy sal my hoor” roep die lied herinneringe op aan generasies wat hul taal moes beskerm en laat voortbestaan. Die temas van identiteit, stryd en trots spreek nie net ouer luisteraars aan nie, maar vind ook aanklank by jong Afrikaanse mense wat hul plek binne die taalgemeenskap soek.

“Roepstem” is vervaardig deur Tertius Human, met bykomende kreatiewe insette van Riaan Steyn. ’n Seunskoor van ’n hoërskool in die Paarl lewer ’n treffende agtergrondbydrae wat die emosionele impak van die lied verder versterk.

Die musiekvideo is by die Afrikaanse Taalmonument in die Paarl en die Voortrekkermonument in Pretoria verfilm – twee bakens wat die historiese en simboliese waarde van die lied onderstreep. “Ek het in ’n rooi rok my hart uitgesing,” vertel Bosman. “Ek wou hê mense moes die trots en passie vir Afrikaans in elke raam beleef.”

Vir Bosman is “Roepstem” deel van ’n groter missie om musiek te skep wat mense raak en verenig. “Ons as kunstenaars het ’n verantwoordelikheid om ons stemme vir iets groter as onsself te gebruik,” sê sy. “Ek hoop hierdie lied leef nog lank ná ons.”

“Roepstem” is nóú op alle digitale platforms beskikbaar.

Exit mobile version